Dag 198

“Die ekklesias van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die ekklesia wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.”

(1 Kor 16:19, OAV)

 

Hierdie versreël (met die regte vertaling van ekklesia in plaas van kerk J) is ‘n pragtige voorbeeld van hoe God die koninkryk van God prakties gestalte gee in sy Liggaam. Die beginsel uit die Skrif is duidelik: waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy in hulle midde (Mat 18:20). Enige bymekaarkoms in sy Naam verseker Hy van sy teenwoordigheid, of dit nou in die bos of in ‘n koffiewinkel of in die bed of in die tronk is. (By laasgenoemde kan jy dan praat van ‘n selgemeente. Grappie.)  Dit maak dit egter nog nie ekklesia nie.

Ekklesia veronderstel Liggaam (Kol 1:18 &24), en Liggaam veronderstel drie dinge: Goddelike orde, doelgerigte funksie en intieme gemeenskap. Volgens Hand 2:47 voeg God toe tot die ekklesia. Let mooi op: GOD voeg toe; mense besluit nie – dis immers SY Liggaam. Daar is met ander woorde geen keuringsprosedure of eksklusiwiteit of lidmaatskapaansoeke tot die behoort aan ‘n ekklesia nie. Die enigste voorwaarde is dat slegs diegene toegevoeg word “wat gered is”. Dus: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Rom 10:9-10). Dis al. Geen doktrinale oortuigings, geen legitimasievoorskrifte, geen  voorgeskrewe rituele, geen oorlewerings van die vadere, geen belydenisskrifte, geen erkenning van “die volkome leer van die saligheid” nie.

Maar duidelik: as jy in ‘n garage gebore word, is jy nie ‘n kar nie; dieselfde  dus: as jy gebore word as deel van so ‘n geloofsgemeenskap, is jy nie noodwendig deel daarvan nie. Daarom maak die hele “volkskerk”-konsep (wat byvoorbeeld die Hervormde en die AP-kerk onderlê) geen sin nie.

Maar ‘n ekklesia is nie net ‘n willekeurige groep nie – hulle word gekenmerk aan Goddelike orde. Hand 14:23 stel dit so: “En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.” Die verantwoordelikheid van hierdie voorlopers is geweldig belangrik: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.” (Hand 20:28). [Ons kom later in groter detail terug op hierdie belangrike aspek.]

Dit verklaar in ‘n groot mate dat Paulus as hy skryf aan die gemeentes in Korinthe hulle in die huisgemeentes aanspreek, maar ook dan in die territoriale ekklesia. Binne bepaalde geografiese ruimtes is daar kleiner clusters, maar saam gee hul gestalte aan die koninkryk van God in ‘n bepaalde area, en het die verantwoordelikheid om daaroor te regeer. Kyk hoe beskryf Paulus dit in 1 Kor 1:2: “aan die ekklesia van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep”.

 

 

  • Sela: Besin oor Tit 1:5 in die lig hiervan.
  • Lees: 2 Kon 11;  Jer 12; 1 Kor 11
  • Memoriseer: Jer 12:5a
  • Vir dieper delf: Lees Gene Edwards se The organic church vs the “NewTtestament” church.