Dag 2

 

“Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.” (Eks 25:8, OAV)

Die Ou Testament is nie net ‘n optekening van verhale, gedigte, spreuke en profetiese boodskappe nie. Paulus verduidelik byvoorbeeld die Nuwe Testamentiese doop van gelowiges en die doping met die Heilige Gees aan die hand van die Israeliete wat gedoop is in die Rooi See en gedoop is in die wolk (1 Kor 10: 1-3). Hy verwys na die rots wat Moses geslaan het en waaruit water gekom het, en hy maak dan dié ongelooflike stelling in vers 6: “en die rots was Christus”! So ook as Petrus oor die geskiedenis van Noag leer, gebruik hy dít om die Nuwe Testamentiese doop te verduidelik. Hy noem hierdie manier van lees die naspeur van “teëbeelde” (1 Pet 3:21). ‘n Teëbeeld, volgens Thayer, “is a thing formed after some pattern; a thing resembling another, its counterpart”. 

Paulus sê “hierdie dinge was voorbeelde vir ons” (1 Kor 10:6), maar in vers 11 spel hy dit eksplisiet só uit: “Now all these things happened to those people as examples, and they were written for our instruction, to whom the ends of the ages have come.” (EMTV).

Een so ‘n voorbeeld wat van groot waarde vir die Nuwe-Testamentiese gelowige is, is die tabernakel van Moses, ‘n teëbeeld wat ons dwarsdeur die studie met groot vrug gaan gebruik. Die tabernakel van Moses was ‘n beweeglike tempel wat in ‘n tent gehuisves is (Hand 7:44). Die verband wat Paulus met jou liggaam as die tempel van God en as tentwoning (2 Kor 5:1-4) tref, word binne hierdie perspektief dan baie belangrik. God woon nie in tempels en kerke en kloosters wat deur mensehande gemaak is nie (Hand 7:48); Hy het jou liggaam as sy mishkan, sy “dwelling place”, sy heilige tent, kom bewoon. Paulus vra jou in 1 Kor 3:16 om hierdie te bedink: Weet jy nie dat jy ‘n tempel van God is en die Gees van God in jou woon nie?

Jy word met jou wedergeboorte die tabernakel van God. Dan verstaan mens dit beter wat in Joh 1:14 staan: “En die Woord het vlees geword en het onder ons kom woon …” In die Literal Translation of the Holy Bible word dit só vertaal: “And the Word became flesh and tabernacled among us.” 

Jy is die plek waar God gekies het om te tabernakel.

  • Sela: Maak seker dat jy die implikasie verstaan dat jy tabernakel van God is, Wat beteken dit bv dat jy dan ook genoem word: “die tabernakel van die Getuienis”? (Num 1:50) 
  • Lees: Gen 2; Ps 2; Joh 2
  • Memoriseer: Gen 2:22-23
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering oor: Tabernakeltipologie