“ … terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie”
(1 Kor 11:29b, OAV)
Dis belangrik dat jy die groter prentjie van waar ons onsself met die manna bevind tans, onthou. Ons het nadat ons die voorhof en die heilige deel van die tabernakel redelik volledig gedek het (die reukofferaltaar uitgesluit), volgens Bybelse patroon vir ‘n wyle weer moes terugbeweeg na die voorhof. Daar is ons tans terug by die brandofferaltaar, en spesifiek by die horings van dié altaar. Dááronder is ons nou al ‘n geruime tydjie besig om te kyk na die vals horings van die altaar. Die kleiner subtema waaroor ons tans leer, is om na aanleiding van die geskiedenis van Korag na die inherente flaws van die huidige kerksisteem waaraan ons deur die eeue gewoond geraak het, te kyk en hoekom dit juis rebellie voed. Korag het drie besware voorgehou, en ons het nou in detail na die eerste van die drie gekyk. Voortvloeiend daaruit het ons stilgestaan by die misleidende rol wat ons denke oor denominasie en lokale kerk speel in die beperking van die Koninkryk van God.
Dus, om die eerste beswaar uit Num 16:3 op te som: kerke erken mense tot volwaardige lidmate en gee hul toegang gee tot sakramente en fellowship sónder dat hul wedergebore is. Die kerk word binne dié vals konstrukdenke oor kerkwees verlei om allerlei ander aannames te maak oor gebou, outoriteit en leierskap. Om hierdie redes het die kerk meer dikwels ‘n sosiale klub geword en heers die vrees van die Here nie meer in die geloofsgemeenskap nie. Ons het nou gedeel met die beskuldiging: “All the members of the community belong to the LORD, and the LORD is with all of us.” Ons het duidelik gesien dat dit nié so is nie.
Die tweede beswaar wat Korag en kie uit Num 16:3 opper, is: “You take too much upon yourself.” Hierdie is uiteraard ‘n geweldige reële probleem in georganiseerde godsdiens. As gevolg van die kunsmatige verdeling tussen “Godsgeleerdes” en “gewone lidmate”, het daar ‘n verkeerde “werksverdeling” tussen “clergy” en “laity” gekom. Korag is helaas nie verkeerd in wat hy sê nie – die meeste werk van georganiseerde godsdiens word bedryf deur die dominees en pastore en kerkrade en sinodes, en die gewone lidmate moet dikwels maar net inval met hierdie manier van doen. Die “clergy” word soos volg in Websters omskryf: “The body of men set apart, and consecrated, by due ordination, to the service of God, in the christian church; the body of ecclesiastics, in distinction from the laity.” Dit klink baie mooi, maar dis helaas nie waar nie en Christus het nooit bedoel sy kerk moet op hierdie wyse verdeel word nie. Dit is juis hierdie inherente flaw van die Nuwe-Testamentiese kerk wat – weer eens – die rebellie in die kerk voed! (En boonop is die clergy dikwels so oorwerk en derhalwe uitgebrand, dat hul nié hul Godgegewe roeping in elk geval kan vervul nie! Sien Eks 18:18. En daarbenewens bring dit ‘n passiwiteit mee onder die gelowiges wat die Koninkryk van God óók nie dien nie – Heb 5:12.)
Die verkeerde verstaan rondom priesterskap in die kerk vandag is die basis van hierdie onbybelse sisteem van kerkfunksionering, omdat ons nie die Liggaam van Christus kan onderskei nie.
- Sela: Is jy in jou gemeente deel van die verkeerde verdeling van “clergy” en “laity”?
- Lees: 2 Kon 13; Jer 14; 1 Kor 13
- Memoriseer: 1 Kor 13
- Vir dieper delf: Lees hfst 13 in Juan Carlos Ortiz se boek Disciple.