“Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of
‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging …”
(1 Kor 14:26, OAV)
In die Skrifgedeelte hierbo word die funksionering van die Nuwe Verbond-gemeente pragtig uitgespel: as ons as gelowiges saamkom, het elkeen daar iets om by te dra. As gevolg van hierdie vals verdeling tussen geleerde Godmanne en soekende sondaars is die “gemeenskap van die heiliges” vereng tot die eenrigting verkeer van ‘n toe-spraakagtige preek. Die sogenaamde akademies-gekwalifiseerde prediker (gekwalifiseer volgens menslike tradisies) is derhalwe die aangewese persoon om in die oorlewering van die Ou Verbond die persoon te wees wat namens die ander by God gaan hoor: “En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.” (Eks 20:19).
As gevolg van hierdie verkeerde patroon wat ons begin navolg het, is kerkdienste vereng tot ‘n absoluut rigiede stuktuur met elke denominasie of groepering se eie liturgiese oorleweringe. Die gemeente se hootaak is om te luister en dan deur sang deel te neem, tussen-in sekere belydenisse op te sê en op te staan en te sit volgens reëlmaat. Die gebed word namens hulle gedoen, die gawes (as dit funksioneer) deur die dominee of pastoor gechannel, Dit is ‘n absolute verskraling van ekklesia-wees.
Om die aandag van die (dikwels verveelde) lidmate te behou, word die diens al hoe meer vleeslik aangepas om dit by hul behoeftes te laat pas. Die byeenkoms moet kort genoeg wees; die musiek moet net die regte atmosfeer skep en die regte hartsnare roer; die stoele moet sag wees; die plek moet lugversorg wees; die stoornisse moet uitgeskakel word; niemand moet gekonfronteer word nie; ons moet ag slaan op die “seekers” en tog nie die appelkar omgooi met iets kontroversieel nie; die mense moet besig gehou word met programme en geldinsamelings. En deurgaans word die bron waaruit God met sy gemeente praat – die hele Liggaam! – stilgemaak.
In the process we raise an audience, not an army.
Jesus het nooit preke van inspirasie gepreek sodat lidmate vir hom na die diens met groot intensiteit kan kom sê: “Dominees, dit was nou ‘n mooi preek! nie” Preke van inspirasie is vir ongehoorsame persone om hul in hul gemaksrak te hou, perdalks om hul te beweeg om dalkies maar asseblieftoggies gehoorsaam te word.
Juan Carlos Ortiz slaan in sy boek Disciple die volgende dodelike spyker in hierdie doodskis van die kerk: “In order to form lives, we must stop being speakers and start being fathers. Speakers have only hearers. Fathers have children. Learning doesn’t come by hearing but by obeying.”
Daar is ‘n Woord wat jou sal bevry van hierdie vals orde: “Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (Deut 30:12-14).
- Sela: Vra vergifnis dat jy onkrities ‘n verkeerde sisteem geperpetueer het.
- Lees: 2 Kon 15; Jer 16; 1 Kor 15
- Memoriseer: 1 Kor 15:15 & 24
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Perverted grace.