“Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. ”
(Hand 20:28, OAV)
Ek het God vir bykans twintig jaar gedien alvorens ek hierdie openbaring gekry het dat elkeen in die Koninkryk geroep word om die skape en lammers kos te gee en op te pas. Op daardie stadium van my lewe was ek grootliks ingestel op my professionele loopbaan, my eie huisgesin en om vir ons ‘n goeie lewe te verseker. Ek het geen saak gehad met die skape van God nie – as ‘t ware het ek geglo – soos baie Christene – dis elkeen vir homself en die duiwel vir die res.
Tot op een oggend dat God op ‘n bonatuurlike manier duidelik en hard met my praat om uit my werk te bedank. Ek moes my laat doop, begin vas en gaan afsonder – en die Here sou daar vir my sê wat ek moet doen. So gesê, so gedaan. Ek berei my voor op hierdie geweldige groot roeping; immers om my nou uit my suksesvolle loopbaan te haal, beteken seer sekerlik daar is fabelagtige wonderwerke op pad J
Op ‘n plaas in Groot Marico staan ek die oggend vroeg op, want ek voel die Here sê ek moet berg toe gaan. Die enigste pad na die berg toe is deur ‘n skaapkraal, en toe ek deur die eerste hek gaan, lê die skape en herkou en ignoreer my heeltemal. Ek dink by myself hoe onnooslik skaapagtig skape eintlik is.
Deur die tweede hek klim ek langsaam na bo – die kruin is hoog en dis vroeg reeds warm. Daar gekom, huffing and puffing, wag ek op die Here om met my te praat. Na ‘n kort rukkie sê Hy net hierdie enkele sin: “Ek roep jou om ‘n herder te wees.” Niks verder nie. Jy kon my met ‘n nat snoek omklap. Dis so … gewoon. Ek dring aan op ‘n verduideliking, maar Hy is tjoepstil. Na ‘n lang stil dikbektyd op die berg voel ek toe glad nie meer geestelik nie, en begin terugstap, al stoeiend met Hom. Ek het ‘n belangrike argument: ek hóú nie van mense nie, en wil eintlik net op my eie wees en beweeg; ek is nie goed om mense te dien nie, daar is baie ander gewillige (en skaapagtige, moet ek nou bely) mense wat niks beters vir U kan doen nie – hulle kan herders wees. Hy het my nie geantwoord nie.
Die hele pad deur baklei ek met God, weier om dié roeping te aanvaar, probeer beding, maar helaas. Ten einde laaste gooi ek die ou skaapvelletjie uit: As dit nou regtig U opdrag is, moet U dit vir my bevestig. My hand maak die hek oop, en die volgende oomblik staan al die skape soos een skaap gelyk op, begin blêr en begin al agter my aanloop.
Ek, onwillige herder en parmantige samaritaan, het begin huil.
Ek het my eerste onseker tree as ‘n herder gegee.
By die huis gee Hy my Jes 40:11: “Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”
- Sela: Bid deur Eseg 34.
- Lees: 2 Kon 17; Jer 18; 2 Kor 1
- Memoriseer: 2 Kor 1:20
- Vir dieper delf: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: “Die verhalle hut van Dawid”.