Dag 206

“maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”

(Fil 2:3, OAV)

 

Net om jou die drade bymekaar te laat hou: die kleiner subtema waaroor ons tans leer, is om na aanleiding van die geskiedenis van Korag na die inherente flaws van die huidige kerksisteem waaraan ons deur die eeue gewoond geraak het, te kyk en uit te vind hoekom dit juis rebellie voed. Korag het drie besware voorgehou. Ons is aan’t klaarmaak met die tweede beswaar: “You take too much upon yourself.” Hierdie reële probleem in georganiseerde godsdiens, het ons uitgewys, het die kunsmatige verdeling tussen “Godsgeleerdes” en “gewone lidmate” (“clergy” en “laity”) meegebring, en ons het die nuwetestamentiese teenvoeter daarvoor verduidelik: elke wedergeborene is ‘n priester wat ‘n bepaalde rol te vervul het. (Ons kom later in detail terug oor wat hierdie priesterskaprol behels.) In die vorige drie mannas het ons stilgestaan daarby dat die Woord elkeen wat sê dat hy Jesus liefhet, dit prakties moet uitleef deur Sy skape en lammers veilig te hou en te voed. Elkeen.

As gevolg van die geperverteerde kerksisteem waar dit nie gebeur nie, het daar ‘n poort vir rebellie geopen in die lokale gemeente en kon Korag en sy kroonprinse ‘n legitieme rede (alhoewel ongeregtig) vir hul rebellie voorhou.

Die derde beskuldiging wat die gees van Korag teen geestelike outoriteit inbring, is: “Why do you set yourself above the LORD’s community?” (Num 16:3, GNB). Hierdie beskuldiging bou voort op die vorige twee beskuldigings, en is ook – weer eens – nie ‘n verkeerde stelling nie!

Ek wil uitvoerig aanhaal uit Fil 2:3-8 om hierdie geweldig belangrike beginsel te bespreek: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Een van die belangrikste demoniese grondslae van ons geestelike funksionering is geestelike hiërargie. Die foutiewe onderskeid tussen Godsgeleerdes en gewone lidmate het uiteraard hierdie kanker gevoed, maar dit het baie wyer manifestasie gekry. Ons gaan hierdie saak in die volgende paar manna uitpluis.

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees om jou te bedien oor hierdie saak.
  • Lees: 2 Kon 18;  Jer 19; 2 Kor 2
  • Memoriseer: 2 Kor 2:14
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God: Nederigheid.