“Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.”
(Rom 10:3, OAV)
Geregtigheid is die karakteraard of kwaliteit om reg of geregtig te wees. Oorspronklik is dit in Engels rightwiseness gespel, wat die betekenis daarvan duidelik omlyn. Geregtigheid is een van die kenmerke van God se karakteraard (Rom 3:5) – dit is is een van daardie kwaliteite van God wat oneindig, ewig en onveranderlik is, en is die gevolg van sy heiligheid. God kan nie anders wees as geregtig in alles wat Hy besluit en doen nie.
Daarteenoor het die mens met die sondeval alle sin vir geregtigheid verloor. Jesaja (64:6) se versugting oor die gevalle toestand van die mens spel dit raak uit: “En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.” Job, in 15:14-16, deel hierdie versugting: “Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees? Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie; hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!” Ons is dus almal in ongeregtigheid gebore (Ps 51:5)! Luister na Paulus se versugting: “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.” (Rom 7:18).
Dit blyk dus duidelik: ek en jy, géén mens het enige geregtigheid in homself nie. Niks.
Daarom sê God in Jes 57:12: “Ék sal jou geregtigheid bekend maak en jou werke, dat hulle jou geen voordeel bring nie.”
Eiegeregtigheid is wanneer jy nie besef wat die grondige diepte van jou vervallendheid is nie: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.” (Open 3:17).
Selfs al jou godsdienstige en goeie werke het geen geregtigheid nie! ”Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom 3:10-12). Daarom stel Paulus dit ‘n paar verse verder onomwonde: “aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde” (vers 20). Gal 2:16 stel dit sterk: “terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.”
Eiegeregtigheid staan derhalwe lynreg teen God se genade. Enige persoon wat homself hoër as iemand anders ag, het hom losgemaak van God se genade.
- Sela: Dis tyd vir ernstige belydenis voor God.
- Lees: 2 Kon 20; Jer 21; 2 Kor 4
- Memoriseer: 2 Kor 4:7
- Vir dieper delf: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Righteousness as the foundation of His throne.