Dag 209

“ Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.”

(Mat 5:20, OAV)

 

Volgens die Skrif hierbo is eiegeregtigheid die hoofrede hoekom gelowiges NIE die koninkryk van God kan ingaan nie. In Luk 18:7-14 vertel Jesus ‘n gelykenis oor eiegeregtigheid en die geweldige gevare daaraan verbonde. Hy vertel die verhaal toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies. Wanneer ‘n gelowige in sy hart “afguns en selfsug” (Jak 3:14) het, roem hy teen Christus. Die verset van Korag word gevoed deur die geestelike hiërargieë in ons geestelike gemeenskappe en die vleeslike belangrikheid wat aan mense toegeken word, en wat mense aan hulself toe-eien. Dis ‘n geestelike wetmatigheid” “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.” (Luk 18:8)

In die gelykenis gaan twee manne na die tempel, ‘n Fariseër en ‘n tollenaar. Die Fariseër het saggies gebid: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.”

Duidelik is hierdie ‘n godsdienstige man, en hy voer die ritueel van die geloof getrou uit. Maar hy verstaan nie dat sy geregtigheid wat hy deur sy dade verkry het, hom nie regverdig nie. Hy is met ander woorde duidelik eiegeregtig. Die gelowige se dade spruit uit sy verhouding met God; dit tel nie Brownie-points vir Hom nie. Daarbenewens: al was daar geregtigheid in wat hy getrou uitgevoer het (en daar is – Jak 2:18), verloor hy dit deur sy eiegeregtigheid.

Die gelykenis gaan dan verder deur te vertel van die tollenaar wat selfs nie sy oë na die hemel wou ophef nie (dus homself nie hoër geag het as wat hy geweet het hy as gevalle sondaar is nie), en op sy bors geslaan het en sê: “O God, wees my, sondaar, genadig!” In Nah 2:7 lees ons van die slavinne wat weeklaag en hulself dan op die bors slaan. Ons lees van Dawid wat, toe hy berou gekry het, “David’s heart smote him” (2 Sam 24:10, KJV). Hieruit blyk duidelik die tollenaar se totale gebrokenheid voor God. En daarmee skop ‘n ander geestelike wetmatigheid in: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” (Jes 66:2). Want dis ‘n Goddelike wetmatigheid, ook in die Nuwe Verbond: “want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade (1 Pet 5:6b).

Jesus spel dit dan uit: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”

 

  • Sela: Bid om vergifnis vir alle vorme van selfverheffing in jou lewe.
  • Lees: 2 Kon 21;  Jer 22; 2 Kor 5
  • Memoriseer: 2 Kor 5:17
  • Vir dieper delf: Lees hfst 8 van William Barclay se The mind of St Paul.