“Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel …”
(Jes 61:10a, OAV)
Iemand wat in eiegeregtigheid staan, het hom van die geregtigheid van God losgemaak, het ons in die vorige manna geleer. Jes 53:6 spel dit uit dat niemand geregtigheid in homself het nie, want ons het almal afgewyk van God se geregtigheid: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” God het Christus gekies op grond van sy volmaakte, ewigdurende geregtigheid (Dan 9:24) en Hom as ‘n verbond vir die volk voorberei (Jes 42:6). In Jer 23:6 word geprofeteer Christus sal bekendstaan as: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Om hierdie rede word ons slegs deur Christus geregverdig: “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het … geregtigheid” (1 Kor 1:30; 2 Kor 5:21; Jes 45:24). In Rom 30:29 word dit eksplisiet gestel: dit is die geval, sodat niemand mag roem nie.
Hierdie geregtigheid word net geaktiveer deur geloof, nie deur werke nie (Rom 4:6). “Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” (Rom 4:3). Vroeër in Rom 1:17 sê Paulus dit só: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”
Soos die Skrif hierbo in Jesaja dit poëties uitspel: God, deur Christus, beklee jou as gelowige met die mantel van Sy geregtigheid. Bloot op grond daarvan het ek en jy wat glo right standing voor God (Rom 5:12, 19, Ampl). As God na my en jou kyk, doen Hy dit deur Christus se geregtigheid (Fil 3:9).
Maar as die Woord dan vereis in Mat 6:33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid …”, wat moet ons soek, as ons dit reeds in Christus verkry het?
Dit blyk duidelik nou dat daar in hierdie gedeelte verwys word na die geregtigheid wat die bakermat is van die koninkryk van God. Soek derhalwe die geregtigheid van die koninkryk van God! Rom 14:17b verduidelik dat die koninkryk van God is “geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees”. Geregtigheid vorm dus ‘n fondament van God se koninkryk, en dis nie die geregtigheid wat uit Christus is nie – dis die gelowige se geregtigheid. (Soos vrede en vreugde albei die vrug is van die gelowige – Fil 1:11.)
Daarom moet die gelowige geregtigheid soek, of soos Deut 16:20 dit onomwonde uitspel: “Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee.” Ons moet weet wat ons moet najaag, want soos Jes 5:16b dit voorhou: “die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid”.
- Sela: Bid Ps 5:8, Ps 119:40, Ps 31:1 en Ps 36:10.
- Lees: 2 Kon 22; Jer 23; 2 Kor 6
- Memoriseer: 2 Kor 6:14-15
- Vir dieper delf: Lees hfst 4 in Norman Grubb se The deep things of God.