Dag 212

 

“Beproef alle dinge; behou die goeie.”

 (1 Thes 5;21, OAV)

 

Een van die manifestasies van rebellie is die geneigdheid tot Christelike laertrek, of sektariesheid. Die woordjie “sekte” kom van die Latynse seco, “to cut off, to separate”. Webster’s omskryf dit as volg: “A body or number of persons united in tenets …, but constituting a distinct party by holding sentiments different from those of other men.” Hierdie saamgroepering rondom ‘n spesifieke oortuiging of doktrine maak dat Rick Joyner dit “homo-sect-uality” noem, met die implikasie dat mense van dieselfde oorsprong mekaar as ‘t ware aankleef. ‘n Mens sou dit ‘n geslote geloofsisteem kon noem – geen nuwe invloede of ander leringe wat staan teenoor die groep se oortuiging kan geakkommodeer word nie. ‘n Geslote sisteem wat nie lewe in sigself kan voortbring nie, bring egter net dood voort – dit weet ons uit die geografie van die Dooie See.

Ons het met die loop van jare die begrip “sekte” met ‘n verkeerde betekenis gelaai. ONS  en ONS oortuigings is as die norm verhef, en alle ander groepe, wat mag verskil, word as ‘n sekte gebrandmerk. Elkeen is na regte in die oë van die groep met wie hy verskil, ‘n sekte, want hulle het hul ge-“separate”.

‘n Geloofsisteem kan egter nóóit ‘n geslote sisteem wees nie, want openbaring aan die ekklesia is altyd ontvouend van aard. Daniël het geprofeteer dat aan die einde van die tye die kennis sal vermeerder (12:4). Jesaja het uitgespel dat aan die einde van tye “die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jes 11:9). Daarom dat 2 Peter 1:15 (KJV) dit vra: “be established in the present truth”. Om hierdie rede moet ons voortdurend ons verstaan van die Waarheid aanpas in die lig van die nuwe openbaring, soos wat die “present truth” vrygestel word. Ons moet gou wees om wanneer die Heilige Gees ons anders oortuig van die waarheid, wat ons glo daarby aan te pas. Dit beteken egter ons moet deurgaans alle dinge beproef, en die goeie behou (1 Thes 5:21).

Die waarheid is egter nie ons interpretasie van waarheid tot leerstelligheid nie – Waarheid is ‘n Persoon – sy Naam is Christus Jesus. Daarom sal ons nooit verenig wees rondom doktrine nie – ons almal ken ten dele (1 Kor 13:12), en kan slegs eenheid hê deur ons gemeenskaplike geloof in Hom (Joh 17:21). Maar elkeen moet deurentyd toets wat hy glo en die Skrifte in die lig daarvan ondersoek, soos die gelowiges van wie Hand 17:11 praat: “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was”. Ons enigste maatstaf is die Woord, daarom bid Jesus: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Joh 17:17). Maar luister ook na Jesus se waarskuwing in hierdie verband: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” (Joh 5:39).

Streng gesproke is dié groeperinge sektes wat belydenisskrifte voorhou as “die volkome leer van die saligheid”.

 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die ware betekenis van ‘sektariesheid’.
  • Lees: 2 Kon 24;  Jer 25; 2 Kor 8
  • Memoriseer: 2 Kor 8:9
  • Vir dieper delf: Lees hfst 11 van Arthur Wallis se The radical Christian.