“Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is …”
(Hand 24:14, OAV)
Hierdie Skrifgedeelte in Handelinge is so openbarend oor die woordjie sekte: Paulus sê in effek: Deur dit wat julle sekte noem, het ek die Lewende God leer ken. Om ‘n geloofsgroepering of –gemeenskap sektaries te noem, is dikwels ongeregverdig en bloot ‘n gerieflike skeldnaam wat gebruik word om hulle wat van jou verskil te brandmerk.
Interessant genoeg, ten spyte van die demokratisering van geloof, word die tradisionele (geslote) geloofsisteme as norm aanvaar. In formele funksies, soos byvoorbeeld Skrifoordenkings oor die radio of televisie, saalopeninge by skole, burgermeesterfunksies, die vertaling van die Bybel, en so meer, sal lede van die geslote geloofsgemeenskap altyd gekies word. Net soos in die tyd van Handelinge word daar heftig te velde getrek indien alternatiewe groeperinge enigsins ‘n stem kry, en word hulle gou gebrandmerk tot sekte (sien Hand 28:22). Daarom word daar byvoorbeeld in Handelinge gepraat van die sekte van die Sadduseërs (5:17), die sekte van die Fariseërs (26:5), selfs van die sekte van die Nasaréners: “Want ons het gevind dat hierdie man ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners.” (Hand 24:5). Uit die geskiedenis weet ons ook byvoorbeeld van die Essener-sekte, wat vir die Dooie See-rolle verantwoordelik was.
Dis om hierdie rede dat Paulus met groot vrymoedigheid die “sekte” waaraan hy behoort, verdedig: “Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is …” (Hand 24:14). Die basis waarop Paulus die sogenaamde sekte waaraan hy behoort, verdedig, is nie gegrond op enigiets anders as wat “in die wet en die profete geskrywe is nie”. Die Woord bly die enigste verwysingspunt. The Word said it. I believe it. That settles it.
In soveel teologiese argumente vandag word die konteks van die Bybelse gebruike en kulturele opvattinge as ‘n beperkende faktor gebruik in die interpretasie van die Skrif. Enigiemand wat die Skrif op sigwaarde verstaan en hanteer, word uitgekryt as fundamentalisties, en in ons raamwerk vandag is dit ‘n vloekwoord. Ons het egter, selfs dan in ons postmodernistiese era, geen ander keuse nie as om wél te glo: “Die hele inhoud van u woord is waarheid …” (Ps 119:160); “Elke woord van God is gelouter” (Spr 30:5a); “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim 3:16-17). Inderdaad: “Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.” (Ps 119:89).
‘n Sekte het ‘n compromise gemaak tussen Woordwaarheid en oorlewering, omdat hulle nie “present truth” (2 Pet 1:15) in hul geslote sisteem kan inkorporeer nie. Sela.
- Sela: Wat is die implikasies van die laaste paragraaf?
- Lees: 2 Kon 25; Jer 26; 2 Kor 9
- Memoriseer: 2 Kor 9:6
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Losprys vir jou siel.”