
“Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome.”
(Mat 3:10, OAV)
In die vorige manna het ons uit 1 Kor 10:5-6 by die scary slotsom gekom dat ten spyte van al ons geestelike trimmings, selfs ons charismatiese ervaringe, Hy steeds kan sê: “Ek ken julle nie!”. Mat 7:21-23 spel dit onomwonde uit: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Groot getalle persone wat die naam van Christen dra, selfs miskien die goedheid van God gesmaak het, het geword “‘n sorgelose nasie wat in gerustheid woon” (Jer 49:31). Soos Eli (1 Sam 4:18) en Moab (Jer 48:11) het hul dik geword op hulle afsaksel: “Moab was gerus van sy jeug af en het stil gelê op sy afsaksel, sonder dat hy leeggemaak is van vat in vat: hy het nie in ballingskap gegaan nie; daarom het sy smaak in hom gebly en sy geur nie verander nie.”
Baie gelowiges is gered, maar dra steeds die geur van die dood.
In Sef 1:12 stel God dit eksplisiet wat sy gesindheid is teenoor hierdie groepering wat hulself valslik Liggaam noem: “En in dié tyd sal Ek Jerusalem (=Liggaam) met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.”
Ek wil uitvoerig die res van 1 Kor 10:7-12 aanhaal, want dit spel uit dat daar oordeel is teen gelowige, gedoopte en Geesvervulde lidmate van die Liggaam wat nie in ooreenstemming loop met God se agenda (Hand 13:36; Joh 17:4) nie: “En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
In Mat 3:10, die Skrif hierbo aangehaal, waarsku Christus dat Hy die byl aan die wortel sit. Die gelowige word dikwels in die Woord voorgestel as ‘n boom (Jes 61:3), en die wortel waaruit die boom ontwikkel het, is Christus (Jes 11:10; 53:2; Open 5:5 & 22:16). Omdat dit so is dat “die wortel van die regverdiges lewer vrugte op” (Spr 12:12), as daar gevolglik geen vrugte is nie, beteken dit die gelowige is nie gewortel in Christus nie, en moet daarom verwyder word: “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” (Joh 15:6)
- Sela: Bid of jy in die wortel engraft
- Lees: 1 Kron 2; Jer 28; 2 Kor 11
- Memoriseer: 2 Kor 11:3
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Die gees van diepe slaap en die womb-man”.