“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk 6:46, OAV)
Hoor en doen word die reëlmaat van die gelowige se stap met God. Om tot by die punt te kom waar jy God “Here” (in Grieks: “supreme authority”) kan noem, beteken dit jy moet doen wat Hy sê. In ‘n vorige lering is uitgewys dat geloof kom deur die hoor van die Woord van God. Wanneer daar ‘n direkte opdrag in die Skrif is, mag jy nie wag vir bevestiging voordat jy gehoorsaam is nie. Heb 4:2 spel dit só uit: “Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.” Dit wat jy uit die Skrif uit hoor, moet jy dadelik met geloof verenig (want Hy het dit gesê), en doen.
Rondom die doop is daar twee mooi voorbeelde hiervan. Paulus hoor God hom roep, en vra onmiddellik: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” (Hand 9:6). Hy was onmiddellik gewillig om gehoorsaam te wees. Deur sy gehoorsaamheid is daar ‘n hele geestesdinamika aan die gang gesit. Vers 18: “En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.”
In Handelinge 8 lees ons van die Ethiópiëse man wat op sy wa sit en Jesaja 53 lees. Filippus vra of hy verstaan wat hy lees, en hy antwoord: “Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie?” (vers 31). Filippus het toe die Skrif begin verduidelik en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. Vers 36 doen verslag oor die afloop hiervan: “En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?” Hy’t gehoor en is onmiddellik gehoorsaam.
Ons is nie van nature gewillig om gehoorsaam te wees nie – dit vra ‘n aktiewe wilsbesluit. Selfs Christus was nie altyd gehoorsaam nie – Heb 5:8 sê: “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.” As jy nie gehoorsaam is nie, moet jy dikwels ly om so gehoorsaamheid te leer. Maar as jy gehoorsaam is, “het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword” (vers 9). Gehoorsaamheid is belangriker as enige ander offer wat jy God kan bied (1 Sam 15:22).
- Sela: Vra die Here waarin jy ongehoorsaam is. En word ywerig om gehoorsaam te wees.
- Lees: Gen 22: Ps 22; 1 Joh 1
- Memoriseer: 1Joh 1:9
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Om heiligheid volmaak te maak in die vrees van die Here.