“Christ appeared in human form”
(1 Tim 3:16b, WNT)
Ons is tans besig om te kyk wat behels hierdie “verborgenheid van die godsaligheid” (1 Tim 3:16). Die eerste manifestasie daarvan, sê die Afrikaanse vertaling, is: “God is geopenbaar in die vlees”. Ons neem hierdie feit dikwels so goedmoeds aan, dat ons nie die ongelooflik belangrike implikasie daarvan besef nie.
Let asseblief op die verskil in die vertalings. Die OAV vertaal dit uit die oorspronklike taal korrek as God is geopenbaar in die vlees. In die Grieks is dit die woordjie theos, wat nie op Christus spesifiek dui nie, maar op God.
Een van die groot probleme wat die Jode met die Christendom het, is spesifiek ten opsigte van hierdie punt. Deut 6:5 (KJV) spel volgens hulle uit: “Hear, O Israel: The LORD our God is one LORD”. Met ander woorde, redeneer hulle: God kan dus nie multidimensioneel, of in ons terme: drie-in-een (of Drie-enig), wees nie.
Om hierdie rede het die Jode ‘n geweldige weerstand teen ‘n Messiasfiguur wat daarop aanspraak sou maak dat hy as ‘t ware God vleeslik verteenwoordig. Hulle verwag ‘n aardse messiasfiguur uit die bloedlyn van Dawid om op die troon te sit, nie ‘n figuur wat uit God uit afstam nie. Daarom dan dat Johannes die Doper, toe hy in die gevangenis gegooi is en begin twyfel het, sy dissipels na Jesus toe gestuur het en gevra het: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” (Mat 11:3).
Oor hierdie saak was daar deurgaans in die leeftyd van Jesus dispute gewees, vanaf sy geboorte tot net voor sy sterfte. Koning Herodus was diep gekweld toe hy hoor ‘n seun is gebore en dat daar wyse manne uit die Ooste gekom het wat op grond van die astronomie in die sterre gelees het van die geboorte van die Koning van die Jode (Mat 2:1-2). Pilatus het in sy onderhoud met Jesus voor die kruisiging probeer uitvis of Hy ‘n aardse koninkryk wou kom vestig. Luister na die gesprek in Joh 18 (33-34, 36-37): “Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode? Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê? … Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is.”
In Luk 17:19-20 eggo Jesus die Ou Testamentiese uitspraak: “The LORD our God is one LORD”. Maar dan elders stel Hy dit onomwonde: “Ek en die Vader is een.” (Joh 10:30). Wat beteken hierdie oënskoulike teenstrydigheid?
- Sela: Probeer vir jouself uitmaak: Wat beteken hierdie oënskoulike teenstrydigheid?
- Lees: 1 Kron 8; Jer 34; Efes 4
- Memoriseer: Efes 4:4-6 (Kyk hoe sluit die gedeeltes aan by die lering!)
- Vir dieper delf: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Die vervalle hut van Dawid.