“Het ons nie almal een Vader nie?”
(Mal 2:10, OAV)
God is enig in sy soort, by wyse van spreke. Daar is niemand soos Hy nie – nie net proklameer Hy dit self nie: “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.” (Jes 40:26) en “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie.” (Jes 46:9), maar soveel mense wat Hom leer ken het, sê dit sonder vrees vir teenspraak:
- Moses sê ‘n paar keer aan Farao: “daar niemand is soos die HERE onse God nie” (Eks 8:10; 9:14).
- Saam met al die kinders van Israel sing Moses hierdie oorwinningslied as God oor Farao triomfeer: “o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?” (Eks 15:11). Hy proklameer dit ook oor alles wat hul teengestaan het op hul pad na die Beloofde Land (Deut 23:26): daar is niemand ssos God nie!
- Dawid juig dit uit: “Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.” (2 Sam 7:22). Elders bid hy: “Daar is niemand soos U onder die gode, Here …” (Ps 86:8).
- En Jeremia (10:6-7) spel dit eweneens uit: “Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot, en u Naam is groot in krag. Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? (Daar is) geeneen soos U nie.”
As Moses aan God vra hoe hy Hom moet voorstel aan die volk, dan word Hy voorgehou as “EK IS WAT EK IS” (Eks 3:13-15). Daar is geen dispuut daaroor nie – HY IS, en daar is niemand soos Hy nie.
Wat dan noodwendig sou beteken dat Hy ‘n ENIGE en eensame Wese is. Daar is nie ‘n maat vir Hom nie. En omdat een van sy wesenseienskappe liefde is (1 Joh 4:8), beteken dit dat daardie liefde nie gedemonstreer kan word as daar nie iemand anders is nie. Liefde moet, teen alle taalkundereëls in, immers ‘n oorganklike werkwoord wees J.
In die boek van die profeet Maleagi, die laaste woord voor daar 430 jaar stilte sou kom alvorens God weer sou praat, vra die God deur die profeet in 2:10: “Het ons nie almal een Vader nie?” As deel van die antwoord spel hy in vers 15 spel hierdie geheimenis van God uit: “Hy het ‘n geslag van God gesoek.” Ja, ons het almal nét een Vader.
God is. God is eensaam. God soek ‘n nageslag.
- Sela: Bedink en bid oor die laaste sin.
- Lees: 1 Kron 9; Jer 35; Efes 5
- Memoriseer: Efes 5:32 (let op die verband met die lering!)
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se ce-lering: Word ‘n leraar van geregtigheid.