Dag 224

“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!”

(2 Kor 13:14, OAV)

 

Die misterie van die Drie-eenheid – Een God wat manifesteer as Drie – is regtig moeilik om te verstaan. Gewoonlik word die beeld van die eier gebruik om dit aan kinders te verduidelik. ‘n Eier, word gesê, bestaan uit ‘n dop, ‘n wit en ‘n geel – saam maak dit die eier. Maar dit  beteken elke deel van die eier is totaal verskillend – jy kan byvoorbeeld nie ‘n meringue maak met eierdop nie. Hierdie beeld is derhalwe nie ‘n goeie beeld nie (ten spyte daarvan dat ‘n halwe eier soms beter is as ‘n leë dop J).

‘n Meer korrekte wyse om dit te verduidelik, is dalk eerder met behulp van die analogie van ‘n outydse spieëlkas, daardie soort wat ‘n hoofspieël het en dan aan elke flank ‘n smaller kantspieël. As jy voor die spieël staan, sien jy jouself as drie aparte persone, een in elkeen van die drie spieëls. Maar dit beteken nie daar is drie persone nie, uiteraard slegs een. God manifesteer as God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

As ons onthou God is die ewige God, en dat Hy Christus gegenereer het uit Homself (soos ons in die vorige manna verduidelik het), is dit maklik om in te sien dat die Heilige Gees terselfdertyd die Gees van God (Gen 1:2) én die Gees van Christus (1 Pet 1:11) is. Soos ‘n mens se gees hom lewendig maak, en die persoon daarsonder nie kan bestaan nie, is die Gees van God dít wat God lewendig maak (1 Kor 2:11). God kan nie daarsonder bestaan nie. Die Heilige Gees is nie van God of Christus te skei nie. Daarom gebruik Paulus die twee begrippe “Gees van God” en “Gees van Christus” in Rom 8:9 afwisselend (interchangeable) vir dieselfde Gees (=die Heilige Gees).

‘n Ander beperkte, maar tog ook bruikbare beeld om die Drie-eenheid te verduidelik, is die beeld van water, wat as vloeibare water, stoom of ys aangebied kan word. Dit bly water, maar die manifestasie daarvan verskil.

Albei beelde wat hierbo gebruik is, werk ten opsigte van die nie-skeibaarheid, maar wel onderskeibaarheid van die voorbeelde, maar die Drie-enige God verskil ook daarin dat Hy nie ‘n vaste “item” (soos ‘n spieëlkas of  water) is nie. Hy is nie net tot een lokus vas te pen nie. Hy kan terselfdertyd God in die hemel, Christus op aarde én die Heilige Gees wees wat neerdaal, soos wat inderdaad gebeur het met Jesus se doop: “En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal. En daar het ‘n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Mark 1:10-11). As gevolg van die Een-heid van die Drie word gelowiges gedoop in die Naam (let op enkelvoud) van die Vader, Seun en Heilige Gees (Mat 28:19).

 

  • Sela: Probeer die begrip “Drie-eenheid” aan ‘n kind verduidelik.
  • Lees: 1 Kron 12;  Jer 38; Fil 1
  • Memoriseer: Fil 1:21
  • Vir dieper delf: Lees hfst 11 in John MacArhur se boek: God in the manger.