“Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.”
(Spr 8:22, OAV)
Alhoewel die woordjie “Drie-eenheid” nêrens in die Bybel voorkom nie, is dit duidelik dat dit ten grondslag van die ganse Bybel is. As ons in Gen 1:1 begin lees, staan daar in ons vertaling: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” In die Jerusalem Version, waarin die algemeen-vertaalde benaming van God met die korrekte Hebreeuse en Griekse name van God vertaal word, lees dit soos volg: “In the beginning Elohim created the heavens and the earth.”
In omtrent al die Bybels word die verskillende name van God vertaal met die woordjie “God”. Omdat ‘n naam in Bybelse kultuurkonteks bykans altyd dui op ‘n identiteit, is dit van groot belang om die verskillende name van God te leer ken. (Ons kom straks hierop terug.) Die Hebreeuse naam wat hier in Gen 1:1 gebruik word, Elohim, dui op meervoudigheid: “rulers, judges, divine ones, gods” (Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions). Daarom pas dit dat God later in Gen 1:26 sê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis …”
Die lewe van Christus het nie begin ongeveer 2000 jaar gelede toe die maagd Maria bevrug geraak het deur die Heilige Gees nie, nee. Kol 1:15-19 gee dié omvattende verduideliking van Christus: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand … Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon …”
Hierdie ereposisie van Christus word profeties pragtig verduidelik in Spr 8:22-24, 26-31: “Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af … Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy ‘n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het— toe was ek ‘n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.”
- Sela: Hoe rym Fil 2:5-8 met hierdie lering?
- Lees: 1 Kron 13; Jer 39; Fil 2
- Memoriseer: Fil 2:3
- Vir dieper delf: Lees Deel 4 van Venter & Gouws se Die verbond en die vervalsing