“And she called the name of Jehovah who spoke to her, Thou art the God who reveals himself, for she said, Also here have I seen after he has revealed himself.”
(Gen 16:13, Darby)
Jy moet nie dat die geheimenis van die vorige manna by jou laat verbygaan nie, sela asseblief! Uit die Targum het ons klinkklare bewys gekry dat die Joodse wêreld onmiddellik geweet het van Wie Johannes praat toe hy sy brief begin met: In die begin was die Woord … Die fisiese manifestasie van God het die naam: die Woord. Toe Hy Homself aan Hagar bekend maak, toe Hy fisies aan haar verskyn, “(she) prayed in the Name of the Word of the Lord, who had been manifested to her”.
Sonder enige kans vir misverstand dus, begin Johannes sy brief en sê: In die begin was die Woord. Dan kwalifiseer hy dit: en die Woord was by God, en die Woord was God. Hiermee sou al die Jode saamstem, ook met vers 2: “Hy was in die begin by God.” Onmiddellik sal die Joodse lesers weet Johannes verwys na Gen 1:1: “In die begin het Elohim die hemel en die aarde geskape.” Onthou Elohim dui op die meervoudige God wat tog Een is. Dus het hulle geweet Johannes praat van die Woord wat in die begin by God was, deel van die Godhead.
Ook vers 3 sal vir hulle totaal aanvaarbaar wees: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie,” want dit is duidelik dat God se Woord terselfdertyd ook die Wyse is waardeur Hy gestalte gee aan dinge: “En God het gesê … En daar was …” Hieruit is dit baie duidelik dat die Jode die wese van God en/in Christus verstaan het wat ons as Christene nie altyd heeltemal snap nie – dit wat God praat en waardeur Hy gestalte gee, IS Christus. Toe God GESÊ het, was dit Christus die Woord wat uit sy mond uitgekom het, en dit het onmiddellik GESTALTE gekry, dit was. In hierdie lig kan ons beter verstaan wat die geweldige diepgang is van hierdie welbekende woorde: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” As Ps 33:6 & 9 dus sê: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak … want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan,” het die Jode verstaan die Woord is ‘n Persoon. Die Woord is God in gemanifesteerde aksie.
As Johannes dan in vers 4 & 5 die twee ander kwaliteite van die Woord uithef, dat die Woord nie net alles geskape het nie, maar ook die oorsprong van lewe is soos ons dit ken, en dat dié Lewe die lig van die mense is. Die oorspronklike betekenis van “lig” hier in Grieks, is: “to make manifest” (Strongs)! Maar “lig” beteken ook “to illuminate”, om te verhelder, om tot “verligte oë van die verstand” (Efes 1:17) te bring, dit wat Johannes dan ook gebruik om sy argument verder te ontvou vanaf vers 6, met die klimaks in vers 9: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.”
Die argument bou op rondom die misterieuse ontdekking van WIE die Woord is, as hy in vers 14 die Woord identifiseer as Christus: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon …” en as die Seun: “die Eniggeborene wat van die Vader kom”. (Die Jode het uit Ps 2:7 & 12 geweet van die Seun.)
Skielik voeg alles ineen. In Hom. Die mens sal lewe van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
- Sela: Lees Joh 1 hardop, biddend.
- Lees: : 1 Kron 16; Jer 42; Kol 1
- Memoriseer: Kol 1:15-17 (kyk hoe mooi skakel dit met die lering!)