“The opening of your words gives light” (Ps 119:130, BBE)
Een van die opwindendste dinge wat die Heilige Gees aan jou openbaar as die skille van jou oë afval, is hoe om die Woord van God te lees. Ons het dit gesien in gister se lering, dat die Ou-Testamentiese boek van Jesaja vir die hofdienaar van Afrika ‘n geslote boek was, by wyse van spreke, totdat die Heilige Gees deur die verduideliking van Phillipus hom dit laat verstaan het.
Dieselfde het met die Émmaüsgangers (Luk 24: 13-35) gebeur. As volgelinge van Jesus is hulle diep teleurgesteld oor die vreemde verloop van gebeure en praat met mekaar daaroor, selfs terwyl Jesus sáám met hul stap. Toe Hy navraag doen oor hulle ontsteltenis, vra hulle Hom, ironies, of Hy dan ‘n vreemdeling in Jerusalem is dat Hy nie weet wat gebeur het nie! Hy moes seker by Homself geglimlag het. Ons is dikwels só besig om oor Hom te praat, dat ons Hom nie raaksien in die situasie nie. Maar duidelik was hul geestelike oë ook nie oop nie. En Hy begin van Moses en al die profete af om vir hulle uit te lê al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. Later, toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle, en toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken. Dis eers toe Jesus die brood self breek, dat hulle geestelike oë kon oopgaan.
Paulus gee die volgende verduideliking: “Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem.” (2 Kor 3:14-16).
Selfs sy eie dissipels het dit nodig gehad om “verligte oë” (Efes 1:18) te verkry. Na sy opstanding sê Hy vir hulle: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.” (Luk 24:44-45). Alles in die Ou-Testament wys heen na Jesus. Gaan soek Hom!
- Sela: Bid oor Efes 1:18-21 en probeer bepaal wat gebeur alles as jy verligte oë van die verstand kry. Bepaal of daardie drie gespesifiseerde aspekte in jou lewe al vasgemaak is.
- Lees: Gen 23: Ps 23; 1 Joh 2
- Memoriseer: Ps 23
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: ‘Hoe word my geestelike oë geopen?’