Dag 230

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman …” (Jes 9:6, OAV)

 

Ons het in die vorige manna stilgestaan by die feit dat Christus deur die loop van tyd die sigbare Gesig van God geword het, en onder ‘n velerlei Name bekendstaan. Dit is veral die Naam: die Engel van die Here, of dan: die Boodskapper van God, wat gebruik word. Ons het ook uitgewys dat Hy reeds in die Ou Testament bekend gestaan het as die Woord, ‘n Naam wat Johannes as uitgangspunt gebruik in sy verslagdoening van die Gesalfde.

‘n Ander pragtige voorbeeld van hoe Christus in die Ou Testament bekend staan, vind ons in Rigt 13:17-18, waar Manóag die Engel van die HERE vra: “Wat is u naam?” “And the Angel of Jehovah said to him, Why do you ask this about My name? Yea, it is Wonderful.” (LITV).

In Jes 9:6 word hierdie profesie gemaak aangaande die komende Messias: ““Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar …” Duidelik was hierdie Engel/Boodskapper van God ook genaamd: Wonderbaar. Sy Naam is ook Jesus!

In die oorspronklike Hebreeus kan die Naam “Wonderbaar” beteken: “wonderful, incomprehensible, extraordinary, be surpassing, be extraordinary, separate by distinguishing action, to show oneself wonderful or marvellous” (BDB). Maar Strongs sê dit kan ook “secret” beteken. Hoe misterieus is hierdie Verlosser nie! Inderdaad is dit waar wat Spr 25:2 sê: “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.” Dit is helaas ‘n Koning wat deur konings (Open 5:10) gesoek moet word (Mat 6:33). As jy Hom vind, vind jy inderdaad Iemand separated by distinguishing action.

Gedurende die eerste eeu na Christus is die Septateug – die Ou Testament wat uit Hebreeus in Grieks vertaal is – hoofsaaklik gebruik. Dis baie interessant hoe hierdie vers daarin vertaal word: “For a child is born to us, and a son is given to us, whose government is upon his shoulder: and his name is called the Messenger of great counsel: for I will bring peace upon the princes, and health to him.” (Brenton’s LXX). Inderdaad word “Hy genoem: Wonderbaar, Raadsman”, of soos die 1983-vertaling dit noem: “Wonderbare Raadsman”!

Hierdie Boodskapper was die Gesalfde, want Hy het dieselfde Gees as God gehad. As Hy in Luk 4 die boekrol van Jesaja ooprol, dan haal Hy aan uit die profesie wat oor Hom gemaak is: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring …” Die Boodskapper van God bring aan die mensdom ‘n blye boodskap. Dis ‘n profound boodskap, wat Hy reeds in Deut 33:27 in die vooruitsig gestel het: “Die ewige God is ‘n woning …” Die grootste misterie van alle eeue lê hierin opgesluit: “Jesus antwoord en sê vir hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Joh 14:23).

 

  • Sela: Slaan na wat die woord “inkarnasie” beteken en bedink dit biddend.
  • Lees: 1 Kron 18;  Jer 44; Kol 3
  • Memoriseer: Kol 3:3-4
  • Vir dieper delf: Lees hfst 5 in J.I. Packer se boek Knowing God.