“The one joined to the Lord is one spirit [with Him].”
(1 Cor 6:17, ALT)
Onthou dat ons besig is met die “misterie van Godsaligheid” (1 Tim 3:16), en tans deel met die eerste faset daarvan: Christus wat mens geword het. Ons het in die voorloop hiertoe eers moes uitwys dat Hy volkome God is; hoe Hy in ‘n pre-inkarnasiestaat van voor die grondlegging van die wêreld gefunksioneer het; en dan hoe Hy in die Ou Testament as verskeie Gestaltes aanwesig was. Dit is nou belangrik om te begin fokus op sy verskyning as mens op aarde.
Ons moet nooit vergeet nie – God is Gees (Joh 4:24), en insgelyks is Jesus ook Gees (2 Kor 3:17). Sy koms na die aarde toe het derhalwe die implikasie gehad dat Hy met vlees geklee moes word (Joh 1:14; Fil 2:7-8). God is geopenbaar in die vlees (1 Tim 3:16), en sy Naam is Jesus! Hy was die antwoord op die mens se versugting: Maak God vir ons sigbaar (Joh 14:8).
In hierdie mens van vlees en bloed is die volle wese van God beliggaam (Kol 2:9, NV). Hy was egter, uiterlik gesproke, geensins opvallend mooi of uitsonderlik aantreklike mens, soos jy sou verwag nie – die teendeel was eintlik waar. Jes 53:2b (CEV) stel dit só: “He wasn’t some handsome king. Nothing about the way he looked made him attractive to us.”
Waarom was dit egter nodig dat God in die vlees moes kom? Om dit te kan beantwoord, moet ons terugkeer na die skepping van die eerste mens. (Die volgende 2 mannas vorm deel van die argument en moet saamgelees word.)
In Gen 1:26 lees ons dat God-Drie-enig besluit het om wesens te skep wat hul adâm (=mens) genoem het, die generiese naam van hierdie wese dus. Hierdie wese is in die begin deurgaans só genoem, byvoorbeeld in Gen 2:18 waar God besluit: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie”, waarna ‘n “hulp” uit die “mens” geskep is. Daarna het God die plek waaruit Hy die hulp gehaal het, “met vlees” (Gen 2:21) toegemaak, en noem Hy haar vir die eerste keer vrou. Deurgaans word die mens op sy generiese naam “mens” genoem.
Die mens is uit die stof van die aarde geskep, weet ons. Gen 2:7 vertel dit so: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” Sonder die “asem van die lewe” was die mens bloot stof. Let op dat die mens ‘n lewende siel geword het, maar slegs met behulp van “die asem van die lewe”. Die feit dat die mens ‘n lewende siel geword het, het hom bloot op dieselfde vlak gebring as die ander lewende wesens, soos die diere van die veld en die voëls “waarin (ook) ‘n lewende siel is” (Gen 1:30). Daardie asem van die lewe (=“neshâmâh” in Hebreeus) is NIE dieselfde as die Asem van God/Gees van God (=”rûach”) nie. Maar die eerste mens het duidelik OOK, anders as die diere, die Gees van God ontvang, want hy was in staat om met God te kommunikeer (1 Kor 2:10-11). Sodoende was die eerste mens ‘n geesmens (deur die Rûach van God), het hy ook ‘n lewende siel (1 Kor 15:45) geword (deur die asem van die lewe) en is hy gestalte gegee in vlees. Uiteraard: “The one joined to the Lord is one spirit [with Him].” (1 Cor 6:17, ALT).
- Sela: Verduidelik hierdie lering aan iemand.
- Lees: 1 Kron 21; Jer 47; 1 Pet 2
- Memoriseer: 1 Pet 2:5
- Vir dieper delf: Lees hfst 1-7 in Gene Edwards se boek: The divine romance.