“laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars” (Job 31:40, OAV)
Die eerste mens se verontagsaming van die eksplisiete bevel van God en sy gepaardgaande ongehoorsaamheid het meegebring dat die Gees van God uit hul moes onttrek (1 Kor 6:18-20 – onthou: hoerery dui in die oorspronklike taal ook op afgodery). God het hulle vooraf gewaarsku dat as hulle van die boom van kennis van goed en kwaad eet, sou hul “sekerlik sterwe” (Gen 2:17). Toe dit nou inderdaad gebeur, en die “asem van die lewe” sou onttrek, sou die mens bloot gesterf het. Maar dít het nie gebeur nie – die mens het nog lank daarna as “lewende siel” geleef, kinders gehad en eers op ouderdom 930 gesterf. Die Gees van God (Rûach) het uit die mens onttrek, duidelik nie die asem van die lewe (neshâmâh) nie. (In baie Skrifgedeeltes word hierdie onderskeid tussen die Gees en die siel in dié verband getref: Job 33:4; 34:14-15; Jes 42:5; 57;16.)
In Gen 3 word hierdie hele geskiedenis vertel asook hoe God die ongehoorsaamheid en die verskillende rolspelers gestraf het. Vanaf vers 14 straf God die slang, stel Hy vyandskap tussen die Satan en die vrou, en tussen hulle saad, straf Hy die vrou met moeilike geboorte en “begeerte na haar man”. In vers 17-19 maak Hy dan hierdie geweldig belangrike bepaling: “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
Let op dat die aarde (adâmâh) vervloek word (Gen 5:29) om die mens (adâm) ontwil. Aarde en mens is derhalwe “propperly crossed” (Strongs). Soos dorings en distels die aarde sal vertoorn, sal ook die mens dit (=sonde) voortbring, en dan is die woord uit Heb 6:8 die gevolg: “as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding”. Daarbenewens: die vlees van die mens is nou op die hoofspyskaart van die slang – hy moet stof eet al die dae van sy lewe (Gen 3:14). Die vlees van die mens, soos die aarde, is nou aan verderwing oorgegee. Die sonde van die mens het die vloek van die vlees en die gepaardgaande verderwing meegebring, en “die einde daarvan” is “sterflike vlees” (2 Kor 4:11)! Daarom sê Rom 5:12: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.”
Net na God die mens en die aarde vervloek het (Gen 3:19), is DIE VOLGENDE DING WAT DIE MENS DOEN om sy “hulp”, sy vrou, ‘n naam te gee: “En die mens het sy vrou Eva genoem …” (:20). In hoofstuk 4 van Génesis word die mens VIR DIE EERSTE KEER nie meer mens genoem nie, maar ook ‘n naam en ‘n identiteit toegevoeg. Vir die eerste keer word hy in Gen 4:25 op sy nuwe naam, Adam, genoem. Hierdie naam beteken “rooi”.
- Sela: Verduidelik aan iemand wat presies in die tuin van Eden gebeur het.
- Lees: 1 Kron 23; Jer 49; 1 Pet 4
- Memoriseer: 1 Pet 4:17
- Vir dieper delf: Lees hfst 1&2 in E.W. Kenyon se The Father and His Family.