“ want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”
(Rom 3:23, OAV)
Die mens in sy gevalle staat word vir die eerste keer op ‘n naam genoem: Adam. Bykans al die kommentare verklaar hierdie benoeming van die eerste mens as sou dit dui op die feit dat Adam uit grond/stof gevorm is. Maar dit maak geensins sin nie – alhoewel daar weliswaar rooi grond is, is daar ook bruin, grys, swart, goue, geel, selfs wit grond. Rooi kan nooit die gemene deler van die kleur van grond impliseer nie.
Nêrens, in enige kommentaar, kon ek sien dat iemand raakgesien het dat Adam eers ná die sondeval sy naam gekry het nie. (In baie Bybelvertalings word die woordjie “mens” vroeër in Génesis verkeerdelik, presumptiously, as “Adam” vertaal.) Die naamgewing ná die sondeval en vervloeking van die mens en die aarde het ‘n baie belangrike implikasie.
Die eerste mens was vol van die heerlikheid van God. Ps 8:5 spel dit uit: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.” Webster’s verduidelik dat die grondbetekenis van heerlikheid (“glory”) is: “bright, shining; brightness, splendor”. Op baie plekke in die Skrif word die heerlikheid van God gemanifesteer deur stralende lig (bv Open 18:1 & 21:23; Jes 60:1). Die mens as Beeld van God het duidelik ‘n ander liggaam vóór die sondeval gehad as daarna – ek vermoed dit was ‘n liggaam wat gevul was met die heerlikheid van God: stralende lig (1 Joh 1:5). Die mens is gemaak na die Beeld van God: Christus (Gen 1:26; 2 Kor 4:4; Kol 1:15), en in Hom, sê Joh 1:4: “was lewe, en die lewe was die lig van die mense”. Die eerste mens het gegloei vanweë die heerlikheid van die lig van God! Die eerste mens het die lewe van God in hom gehad: lig in sy are! Sela.
Rom 3:23 verduidelik mooi wat na die sondeval met die lig gebeur het: soos die eerste mens, het almal wat uit daardie “een bloed ontstaan” (Hand 17;26) het, sonder dat hul dit noodwendig gekies het (Ps 51:5), “gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Duidelik het die “Gees van die heerlikheid” (1 Pet 4:14) uit die eerste mens onttrek toe die sonde en die gepaardgaande verderwing en dood hul intrek neem. “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af …” (1 Pet 1:24).
Die lewe wat die lig is (Joh 1:4), moes verplaas word – met bloed. Van toe af aan sal die mens bloed in sy are hê, nie meer lig nie, en die lewe sal voortaan in die bloed wees:”want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind” (Lev 17:14); “The life of every living creature is in its blood.” (CEV).
Die eerste mens het vir die EERSTE KEER na die sondeval sy gevalle kleur vertoon: rooi, en dáárom is hy toe Adam genoem!
- Sela: Bid en vra die Here oor Rom 3:23 in jou lewe.
- Lees: 1 Kron 24; Jer 50; 1 Pet 5
- Memoriseer: 1 Pet 5:7
- Vir dieper delf: Lees hfst 1 in Floyd McClung se