Dag 237

“Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste

Adam ‘n lewendmakende Gees.”

(1 Kor 15:45, OAV)

 

Dis ontsettend belangrik dat Paulus vir Christus die Verlosser hier op ‘n naam noem wat niemand Hom vroeër genoem het nie: Adam. Deur die naamgewing word ‘n belangrike parallel gelê tussen die eerste gevalle mens en dié Een wat gestuur is om God se oorspronklike plan (wat met Adam die eerste nie kon gebeur nie) te kom uitvoer. Adam word ‘n tipe van Christus genoem (Rom 5:14). Paulus noem Jesus Adam die laaste, nie net ‘n “lewende Gees” nie, maar ‘n “lewendmakende Gees”! Die laaste Adam het dit moontlik gemaak om dít terug te kry wat die eerste Adam in die paradys verloor het:  die Ruach van God. Maar dis ook meer as net dit: Hy lei ‘n belofte in waar dié Ruach van God nie net meer in ‘n persoon sal wees en hom geestelik sal laat lewe nie; dié Gees is ook lewendmakend – Hy het die vermoë om die mens te kan opwek in ‘n nuwe bedeling met God. Rom 8:10-12 stel dit raak: “Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Die lewe van Jesus moet in ons sterflike vlees openbaar kan word (2 Kor 4:11).

Hoe presies vind hierdie oordrag plaas, dat ons uit die geestelike dood kan kom en in ‘n nuwe bedeling waarlik kan begin lewe?

1 Pet 1:23 maak hierdie belangrike stelling: “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly”. Om ‘n kind van God te word, moet jy as ‘t ware deur God verwek word. John 1:13 sê: “you were produced not of blood, nor of the will of the flesh, nor of the will of man, but (born) of God”. Ons het dus kinders van God geword deur “onverganklike saad” wat in ons sterflike liggame gesaai word en wat die geestelike lewe laat ontkiem, dít wat Adam deur sy ongehoorsaamheid verloor het.

Maar wat presies is hierdie saad? Het dit te doen met die saad waarmee Maria bevrug is sodat sy Jesus kon baar? Is daar dalk ‘n verband met die saad waaroor God nét na die sondeval geprofeteer het in Gen 3:15: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.” Het dit perdalks ook te doen met die belofte wat God aan die vader van die geloof, Abram, gemaak het in Gen 22:17: “thy seed shall possess the gate of his enemies”?

Een ding kan ons verseker weet: hierdie lewe is nie in die bloed nie – vlees en bloed kan die koninkryk van God nie beërwe nie (1 Kor 15:50) – híérdie lewe is in die lig (Joh 1:4). Die saad moet derhalwe saad wees wat lig (=lewe) genereer. Ons is op soek na die saad van lig wat die heerlikheid sal herstel, dit wat ons in die paradys verloor het.

 

  • Sela: Bid en vra die Here oor Rom 3:23 in jou lewe.
  • Lees: 1 Kron 25;  Jer 51; 2 Pet 1
  • Memoriseer: 2 Pet 1:10
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: The world according to God.