Dag 238

“want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God ”

(1 Pet 1:23, OAV)

 

In die vorige lering het ons gesê ons is op soek na openbaring oor die saad van God, die saad van lig wat die heerlikheid sal herstel, dit wat ons in die paradys verloor het. Alhoewel hierdie saad dus nie te doen het met vlees en bloed nie (1 Kor 15:50), het dit tog ‘n absolute effek op ons sterflike, vleeslike liggame, want, soos 2 Kor 4:11 dit stel: “die lewe van Jesus (moet) in ons sterflike vlees openbaar kan word”. Duidelik moet dit êrens iets te doen hê met die saad waarmee Christus in die vleeslike baarmoeder van Maria verwek is.

Omdat sonde die bloed van alle mense gekontamineer het, moes dit moontlik wees dat die Verlosser, Jesus, gebore moes word uit die vleeslike bloedlyn van Adam, sonder om Adam se bloed te besit. Volgens die Bybel, en ondersteun deur die wetenskap, setel die vermoë om lewe te genereer in die saad of sperm van die man. ‘n Vrou produseer nie saad nie, wel eierselle wat deur ‘n sperm bevrug word. Maar ons moet besef dat die saad van die man duidelik verganklik (“perishing, decayed”) is (1 Pet 1:23).

In Gen 3:15, net na die sondeval, maak God hierdie volgende baie belangrike stelling as hy met Satan praat: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.” Hier word eksplisiet gepraat van die “saad van die vrou”. Op sigself kan die saad van die vrou niks produseer nie, want dit het die (gekontamineerde) manlike saad nodig om ‘n mens voort te bring. En daardie produk sal uiteraard ook gekontamineerd wees: “En hoe sou hy rein wees wat uit ‘n vrou gebore is?” (Job 25:4). Maar die onderskeid word hier eksplisiet gemaak tussen die man se saad en die vrou se saad. Die vers het ook ‘n profetiese belofte, naamlik dat uit die saad van die vrou (‘n nakomeling van Eva) iemand sal voortkom wat die slang (en sy saad/nageslag) sal kan troef. Dit bring ‘n mens by die geweldige belangrike implikasie uit: die saad van die vrou is NIE gekontamineer deur die sondeval nie, wel die man s’n. Om hierdie rede is Eva “lewegewer”, “moeder van alles wat lewe” (Gen 3:20) genoem. Dís waarna Jer 31:22 (GW) profeties uitwys as dit sê: “The LORD will create something new on earth: A woman will protect a man.” (“Protect” kan ook vertaal word met “encompass” of “enclose”.)

Gen 3:15, wat allerweë as die “moederbelofte” bekend staan, gee profeties beslag daaraan dat uit die ongekontamineerde saad van ‘n vrou ‘n persoon gebore sou word in die “volheid van tyd” (Gal 4:4), en dat Hy, die “God van Vrede” (=die Vredevors: Jes 9:6) “die Satan spoedig onder julle voete (sal) verbrysel” (Rom 16:20).

Maar hierdie persoon sal binne die fisiese geslagslyn/saad van Dawid wees. Hierbinne is Abraham die voorvader  aan wie God die belofte gemaak het van ‘n Verlosser. Gal 3:16 (WNT) stel dit so: “Now the promises were given to Abraham and to his seed. God did not say “and to seeds,” as if speaking of many, but “and to your seed,” since He spoke of only one–and this is Christ.” Ons vervat in die volgende lering hierdie ongelooflike geheimenis.

 

  • Sela: Watter praktiese implikasie het hierdie openbaring vir jou lewe?
  • Lees: 1 Kron 26;  Jer 52; 2 Pet 2
  • Memoriseer: 2 Pet 2:19
  • Vir dieper delf: Lees Emeka Nwankpa se boekie Translated into the kingdom of Christ.