Dag 24

 

“Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde sluier sonder dat dit opgelig word, die sluier wat in Christus vernietig word.”(2 Kor 3:14, NV)

Dit is van die allergrootste belang dat ons leer om die Ou-Testament reg te lees en te verstaan. In Mat 5:16-18 sê Jesus: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” ‘n Jota en titteltjie is Hebreeuse leestekens en taalaksente. Deur dit as voorbeeld te gebruik, ondersteun Hy dat selfs die minuskuulste detail van die Ou-Testament nie “opgehef” kan word as die Nuwe gekom het nie. Inderdaad is dit só soos Hy in Mat 24:35 dit stel:  “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”

Maar dit is van die allergrootste belang om te besef die Ou-Testament is eintlik ‘n ou verbond. Die nuwe testament is die boeke van die nuwe verbond. (Sien byvoorbeeld die skutblad van die Nuwe-Testament in die Ou vertaling van die Bybel, dié bladsy wat net voor die inhoudsopgawe is ná die Ou-Testament geëindig het, waar dit uitgespel word.) En ná Christus se opstanding staan gelowiges in ‘n nuwe verbond met God. Daarom sê Heb 8:13: “As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.”  Die Ou-Testament is dus nie meer die riglyne van die geldende verbond nie; maar dit het in vervulling, tot volkomendheid gekom in Christus. Die Ou-Testament is net geldend in terme van die betekenis wat dit in Christus verkry. 

Dáárom kan ‘n mens nie net goedsmoeds Skrifte uit die Ou-Testament gryp nie – dit moet voltooi word in die volle betekenis van Christus. Jesus het dié manier van die ou verbond hanteer pragtig geïllustreer in Mat 5:21-48. 

Baie van ons godsdienstige gebruike is gesetel in Ou-Testamentiese voorskrifte, wat “oud geword het” en dit moet in Christus hergeïnterpreteer word. 

  

  • Sela: Ondersoek alle rituele en gebruike in die lig van God se nuwe verbond met jou.  
  • Lees: Gen 24: Ps 24; 1 Joh 3
  • Memoriseer: Probeer die hele Ps 24 memoriseer.
  • Vir dieper delf:  Lees Arthur Pink se studie oor The divine covenants.