“sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid”
(Rom 1:3, OAV)
In die lig van die vorige paar leringe, lyk hierdie versreël hierbo na ‘n kontradiksie in terme. Christus is duidelik nie “na die vlees” uit die geslag van Dawid gebore nie, want daar was geen manlike sperm uit daardie nageslag in spel met die verwekking van Jesus nie. Dit kon geensins deur Maria oorgedra word, soos byvoorbeeld John MacArthur redeneer in God in the manger, nie: “He has the blood of David in His veins because of His mother, Mary.” Dis fisiologies nie waar nie, het ons vroeër verduidelik, en dis nie genealogies moontlik nie, want die bloedlyn kom uit die vader. (Om hierdie rede word in albei genealogiese registers – wat oor Christus se bloedlyne handel – deurgaans klem gelê op die mans: Lees maar, byvoorbeeld, Mat 1: 8-9 as eksemplaar van die paternale patroon: “en Asa die vader van Jósafat, en Jósafat die vader van Joram, en Joram die vader van Ussía, en Ussía die vader van Jotam, en Jotam die vader van Agas, en Agas die vader van Hiskía”, ens.)
Weer, soos vroeër, is die Afrikaans hier presumptiously vertaal. “Geslag” in die vers hierbo, moet strenger vertaal word as “saad”, soos in byvoorbeeld die YLT: “His Son, who is come of the seed of David according to the flesh”.
Wat ons weer terugbring na die Skrif van die vorige manna: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.” (Gal 3:16). Die Skrif stel dit eksplisiet: dit gaan nie oor die fisiese nageslag (sade) van Abraham (en Dawid) nie – dit gaan oor die geestelike saad van Abraham en Dawid, en sy Naam is Jesus die Christus! Die beloftes aan Abraham en Dawid was oor ‘n geestelike nageslag wat gebore sou word uit die “onverganklike” saad van God – Jesus. Hulle sou weliswaar gebore word in die vlees, maar op grond van geestelike wetmatighede, nie op grond van bloedlyne nie! Vlees en bloed kan mos nie die koninkryk van God beërwe nie, weet ons (1 Kor 15:50), dus word ons, soos Abraham, “geregverdig … uit die geloof” (Gal 3:24). Vers 26 stel dit nog meer duidelik: “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus …” Dan begin ons duidelik verstaan wat bedoel vers 28 eintlik: “Daar is nie meer Jood of Griek nie …” En in vers 29 word dit só eksplisiet gestel, ons kan dit nie kwalik mislees nie: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Die LITV spel dit nog mooier uit: “And if you are of Christ, then you are a seed of Abraham, even heirs according to promise.” (Lees ook Gal 3:7-9.)
As Gen 3:15 die Moederbelofte is vir die totstandkoming van ‘n Messias, is God se belofte aan Abraham ten opsigte van sy saad (gesien in die lig van Gal 3:16) duidelik die Vaderbelofte. Nie een van die beloftes het gegaan oor die fisiese nageslag nie, maar oor die geestelike Saad wat sou voortspruit, Jesus Christus, God se saad vir ‘n nuwe ras op aarde. Hierdie ras sou in die Laaste Adam ‘n nuwe geestelike genetika ontvang om verewig saam met Hom – in die vlees op die aarde – te kan lewe. Hulle sal die aarde beërwe (Mat 5:5) – wat ‘n hemelse gedagte.
- Sela: Wat is dan die rol van die Jode in God se plan, as bogenoemde waar is?
- Lees: 2 Kron 1; Klaagl 4; Open 3
- Memoriseer: Open 3:17
- Vir dieper delf: Lees hfst 3 in Frank Viola se God’s ultimate passion.