“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham …”
(Mat 1:1, OAV)
In die vorige manna het ons uitgewys dat as God praat oor die saad van Abraham en Dawid, is dit onteenseglik duidelik gespesifiseer as die geestelike Saad wat sou voortspruit in die persoon van Jesus Christus, God se saad vir ‘n nuwe ras op aarde. Hierdie ras sou in die Laaste Adam ‘n nuwe geestelike genetika ontvang om verewig saam met Hom – in die vlees op die aarde – te kan lewe. Dit is om hierdie rede dat Christus aan die hoogmoedige Jode, wat deurgaans aanspraak maak op hul fisiese genealogie ten opsigte van Abraham, vermaan en sê: “moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.” (Luk 3:8).
‘n Verdere waarskuwing van Christus aan die Jode in Mat 21:43: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” Daar is met ander woorde baie “wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie” (Open 2:9; 3:9); hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie (Rom 9:6b). Joodskap, genealogie uit die saad van Abraham, is NET “uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal” (Rom 4:16). In Rom 2:28-29 word dit eksplisiet uitgespel: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.”
Om alle onsekerheid oor hierdie baie belangrike saak/saad uit die weg te ruim: “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.” (Rom 9:4-5).
Om dan die implikasies vir ons fisiese nie-Jode, Gentiles, by wyse van kollektiewe spreke: Grieke, ter samevatting uit te spel: Rom 9:8 wys onteenseglik uit dat Christus nie uit die manlik-fisiese bloedlyn voortgekom het nie, maar dat die beloftes aan Abraham en Dawid ‘n geestelike dinamika veronderstel: “Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.” In Joh 8:39 verduidelik Jesus self hierdie beginsels aan die Jode wat gedink het dat hul aanspraak kan maak op hul genealogiese wortels: “Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen.” En hierdie verdoemende woorde in vers 44: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.” Dit veronderstel dat hulle uit ander saad gebore is: die saad van die slang (Gen 3:15). Alhoewel hulle godsdienstig is, noem Jesus hulle derhalwe die “addergeslag” (Mat 3:7; 12:43; 23:33), dié wat uit slegte saad gebore is (Mat 13:38). Daar is net twee tipes mense op aarde: die kinders van God en die kinders van die duiwel (1 Joh 3:10) – uit watter saad jy gebore is, bepaal in watter kategorie jy val.
- Sela: Lees biddend Klaagl 5, die treursang van die Jode wat weet wat hul verloor het.
- Lees: 2 Kron 2; Klaagl 5; Open 4
- Memoriseer: 2 Kron 2:6
- Vir dieper delf: Lees hfst 1-6 in Louw Alberts se Is Jesus Christus uniek?