“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham …”
(Mat 1:1, OAV)
Voordat ons kom by die geboorte van Jesus, is dit miskien van belang om te kyk na die twee persone wat God uitgekies het as die ouers van die “Verlosser van die wêreld” (1 Joh 4:14): Josef en Maria. Die Woord bied geweldig min inligting Maria, nog minder oor Josef.
Josef was ‘n handwerker, bes moontlik ‘n skrynwerker of timmerman (Mat 13:55). (Soos die gebruik was in daardie tyd het die seuns dikwels die vaardighede van hul vaders aangeleer. Derhalwe was Jesus ook opgelei as skrynwerker – Mark 6:3.) Josef se pa was Jakob (Mat 1:16), uit ‘n geslagslyn wat strek tot by Abraham (Mat 1:2). Josef was dus direk uit die saad van Abraham en Dawid (Mat 1:1 & 6), maar omdat Josef se saad nie Jesus verwek het nie, was Jesus derhalwe nie uit die fisiese saad van Abraham of Dawid nie, soos in vorige mannas uitvoerig beredeneer is.
Maar hierdie genealogiese geskiedenis van Josef is tog om ‘n ander rede van groot belang. As ‘n engel van God aan Josef in ‘n droom verskyn om hom te verduidelik wat met Maria gebeur het, word hy soos volg aangespreek: “Josef, seun van Dawid …” Josef was dus uit die “huis van Dawid” (Jes 7:13), geleë in die streek van Betlehem-Juda (1 Sam 17:12) en moes met die sensus opgaan na Judéa, “na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was” (Luk 2:4). (Die verpligte sensus het natuurlik so gebeur omdat daar ‘n profetiese belofte was dat die Verlosser spesifiek daar gebore sou word: “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” – Miga 5:2. Sien ook Joh 7:42.)
In die Joodse gebruikstradisie is afstamming om twee redes baie belangrik. Eerstens: die erfreg word daarvolgens bepaal. (Sien byvoorbeeld Rut 3-4, waar afstamming die oordra van grond moontlik gemaak het.) Tweedens: enige aanspraak op priesterskap of koningskap moes deur genealogiese afstamming geverifieer word. (Sien byvoorbeeld Esra 2:61-63, waar ‘n aantal mans nie toegelaat is tot die priesterkorps nie as gevolg daarvan dat hul genealogiese rekords dit nie kon staaf nie.) Enige aanspraak op koningskap moes uiteraard direk volgens die geslagslyn van koning Dawid wees.
Die genealogiese register van Jesus wat Mattéus aanbied (Mat 1) was primêr daarop gerig om die Jode se kwelling te besweer rondom die Messias se regstatus binne die Joodse volksgeskiedenis. Judaïsme het beslag gekry in God se belofte aan Abraham oor ‘n nageslag en die pertinente beloftes wat God aan Dawid gemaak het rondom koningskap en heerskappy vir hom en sy nageslag. Daarom begin Mattéus sy evangelie deur te sê: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham …” Al was Josef nie die bloedvader nie, was hy die wettige vader (Luk 2:48) van Jesus, en op grond daarvan het Jesus regslegitimiteit gehad ten opsigte van sy aanspraak tot die troon van Dawid.
- Sela: Lees 2 Kron 7 deur en sien hoe die lering beslag kry daarin.
- Lees: 2 Kron 7; Job 5; Open 9
- Memoriseer: Job 5:26
- Vir dieper delf: Lees Jay Snell se How to claim the Abrahamic covenant (met onderskeiding J)