“be it unto me according to thy word …”
(Luk 1:38, KJV)
In die Middeloosterse kultuur waarbinne die heilsverhouding van Josef en Maria uitspeel, is dit algemene gebruik gewees dat huwelike drie ‘fases’ gehad het. Die eerste fase word die “beloftesluiting” (in Engels: engagement) genoem, ‘n gebruik waar óf die ouers óf ‘n professionele huweliksagent (“matchmaker”) ‘n ooreenkoms tussen ‘n seun/dogter of jongedame/jongman aangaan met die oog op ‘n formele huwelik. Die tweede fase word verlowing (in Engels: betrothal) genoem, wat die ernstige verhouding ingelui het en die egpaar as man en vrou in die oë van die gemeensklap bevestig het. Dit het gewoonlik een jaar voor die derde fase, die huweliksbevestiging en –fees, plaasgevind. (Om hierdie rede praat die Joodse wet byvoorbeeld van ‘n vrou wie se verloofde tydens die tweede fase van die huwelik sterf as ‘n “maagdelike weduwee”.) Mat 1:18-24 maak meer sin as mens hierdie agtergrond het, en ons kan verstaan dat Josef daaraan gedink het dat hy van Maria wou skei, al was hulle net verloof! Verlowing is as so ‘n bindende ooreenkoms geag, dat net egskeiding dit kon nietig verklaar.
Die verwekking van Jesus vind plaas in die tweede fase van Josef en Maria se huweliksvoltrekking. Sy is bes moontlik pas twaalf-dertien jaar oud, hy nie ouer nie as vyftien-sestien – die tyd waarbinne verlowings omtrent altyd plaasgevind het. In hierdie tydperk was daar ‘n duidelike kontrak van seksuele onthouding tussen die paartjie, en Josef en Maria het dit eerbiedig (Mat 1:18). Alhoewel Josef op grond van Deut 22:23-24 nie net kon skei met die bekendmaking van haar swangerskap nie, maar ook haar steniging kon versoek, het hy – duidelik nie ‘n kleinlike man nie – besluit om hierdie ‘misstap’ van Maria nie aan die groot klok te hang nie, maar “in die geheim” (Mat 1:19) die verbintenis te termineer. Mattéus takseer hom tereg as “being a kind-hearted man and unwilling publicly to disgrace her” (Mat 1:19, WNT), eienskappe wat sy geregtigheid as ‘n Godvresende man onderstreep.
Eweneens was Maria ‘n Godvresende jongvrou wat in geloof gewandel het (Luk 145). Sy was deeglik onderlê in die beloftes van God vir sy volk (Luk 1:46-55) en het haarself as ‘n “bondservant” beskou het (Luk 1:38), volgens Fausset “a free, voluntary attendant”, met ander woorde iemand wat vrywillig as slaaf dienswerk verrig aan ‘n meester. Die engel spreek haar aan as “Begenadigde” (Luk 1:18), in die oorspronklike taal: “to be accepted in the Beloved” (sien ook Efes 1:6). Dit is die hartsgesindheid van ‘n slaaf wat die reg het om vry te kan weggaan, maar kies om as verbondslaaf te bly werk, ter wille van die meester. Eks 21:5-6 verduidelik wat dit in die praktyk beteken het: “Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer … lief; ek wil nie as vryman weggaan nie – dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.” Maria was dus nie net ‘n willekeurige keuse as inkubator vir ‘n goeie idee van God nie – Spr 3:3-4 was duidelik deel van haar keuses om in hierdie spesifieke posisie voor God te kon kom staan: “Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind … in die oë van God …”
- Sela: Rym dit hierbo met Hand 10:34 en Deut 32:10.
- Lees: 2 Kron 8; Job 6; Open 10
- Memoriseer: Job 6:14
- Vir dieper delf: Lees hfst 8 van Phillip Yancey se Reaching for the invisible God.