Dag 25

“Now these things happened to them as an example, but they were written down for our instruction, on whom the end of the ages has come.” (1 Cor 10:11, ESV)

Teen hierdie stadium behoort jy agter te kom dat die klem tot nou toe hierdie maand baie swaar val op twee hoofonderwerpe: enersyds die ontvouende heilsorde (waar ons gesels het oor roeping, bekering, wedergeboorte, geloof en doop) en andersyds oor hoe die gelowige die Bybel verantwoordelik moet hanteer. Vandag se gedeelte bou daarop voort, en lig hierdie proses, asook die integrasie van die twee hooftemas, mooi toe.

As Paulus in die Skrifgedeelte hierbo sê dat al die Ou-Testamentiese dinge het gebeur as voorbeeld vir ons, en as instruksie, ons wat aan die einde van die tye gekom het, is dit ‘n baie belangrike riglyn, nie net van hoe om die Ou Testament te lees nie, maar ook hoe om te leef in hierdie dae. 

Dan gebruik hy die geskiedenis van die volk Israel wat uit slawerny getrek het onder leiding van Moses as voorbeeld. 1 Kor 10: 1-4: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.”

1426 v.C. toe hierdie gebeur het, sê hy: Christus was daar! Die rots was Christus!  

Onmiddellik vereis hierdie Skrifgedeelte dat jy die geskiedenis van die uittog uit Egipte en die trek deur die Rooi See en die beweeg onder die wolk lees as ‘n teëbeeld  van die gelowige se pad uit slawerny terug na die land van belofte. En dit beteken dan dat nadat jy God se roepstem gehoor het, jy jou bekeer en in ‘n nuwe rigting draai en in geloof begin loop. In hierdie proses wederbaar God jou en word jy in Christus “gedoop in die wolk en in die see” – doping in water en doping met die Heilige Gees. 

Die ander OT-voorbeeld wat as teëbeeld gebruik word, is dié van die vloed van Noag “waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red.” (1 Pet 3:20b-21). En gedagtig dat agt die simbool is van ‘n nuwe begin, is dit te verstane dat die doop ‘n letterlike en figuurlike waterskeiding is. 

  • Sela: Probeer in detail bepaal hoe die groot vloed ‘n teëbeeld van die doop kan wees. 
  • Lees: Gen 25: Ps 25;1 Joh 4
  • Memoriseer:  1 Joh 4:18-19
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God: Ark.