Dag 250

 

“the Lord is full of tender compassion”

(James 5:11, Darbey)

 

In ‘n gedig van Elisabeth Eybers oor Maria, stel die digterlike spreker telkens die positiewe belewenisse wat sy rondom die geboorte van Jesus ervaar het teenoor die ontsettende pyn wat Hy moes deurmaak om sy taak te volvoer. Teen die einde van die gedig word die eens “begenadigde” nooi uit Nasaret ‘n “vrou van smarte” genoem, analoog aan “die man van smarte” (Jes 53:3) waaroor Jesaja geprofeteer het. Sy het in so ‘n mate met haar Seun geïdentifiseer, dat sy as moeder een met Hom gevoel het in sy lyding. Inderdaad het die profetiese woorde van Símeon oor haar waar geword: “’n swaard sal deur jou eie siel gaan” (Luk 2:35).

In sy lang epiese gedig Paradise Lost het die blinde digter Milton die hele verloop van die sondeval van Adam en Eva in dramatiese versvorm verbeeld. In een stadium is daar ‘n gesprek tussen Lucifer, Moleg, Mammon en Beëlsebub om ‘n plan te bedink om die mens – as kroon van God se skepping – tot ‘n val te bring, toe laasgenoemde met hierdie strategie vorendag kom: “What if we find / some easier enterprise?…”

God, getrou aan sy aard van uitnemendheid,  het ‘n bepaalde standaard gestel (Gen 1:26), en Satan het homself daarteenoor opgestel (Gen 3:1-5) en aan die mens ‘n “easier enterprise” kom voorhou. Die pad wat Satan ons aanhits om te loop, is dikwels gevaarlik steil in God se oog (Num 22:32). Ons word so maklik mislei, en dan is dit wat in Jes 47:10 ook van ons waar: “En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê: Niemand sien my nie! Jou wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit, en niemand anders nie!” (Klink soos Lucifer, né?)

Dwarsdeur die Woord word uitgespel dat God vol genade is en diep medelye met die mens het. Die woord wat dikwels daarvoor gebruik word, klink op Engels die mooiste: compassion. Hierdie woordjie, uit die Latyn, bestaan uit twee dele: pati en cum, wat beteken: “to suffer with”. God het nie net Maria uitgekies vir dit wat sy gebied het in terme van die aangename en goeie dinge rondom die geboorte van die Messias nie, nee. Sy is veral ook gekies rondom haar vermoë om deurgaans deel te hê aan sy lyding, al was dit op ‘n afstand (Mark 15:40). En deurentyd is sy daar: as sy vol angs na Hom soek as Hy in die tempel agtergebly het (Luk 2:48);  by die kruisiging (Joh 19:25), by die graf (Mat 27:61), eendragtig saam met die apostels in gebed (Hand 1:14) vir die uitstorting van die Gees, ook daarna (Hand 12:12) immer daar om solidariteit en compassion te demonstreer. Daarom noem Eybers haar tereg “vrou van smarte” – she certainly suffered with.

Die evangelie van die koninkryk van God bied geen “easy enterprise” nie. Dis alles of niks – óf Christus kry in jou gestalte, soos in Maria, óf nie – “my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Gal 4:19). Ons moet “deelgenote … aan die lyding” (2 Kor 1:7) word, “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil 3:10). En dit gebeur in soverre ons dit aan die minstes gedoen het … (Mat 25:40).

 

  • Sela: Wat presies beteken hierdie lering op praktiese vlak vir jou? Sien ook Isa 59:9 (KJV).
  • Lees: 2 Kron 9;  Job 7; Open 11
  • Memoriseer: Open 11:15
  • Vir dieper delf: Lees Henri Nouwen se boek: