Dag 252

“En Hy sal … vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.”

(Jes 25:7, OAV)

 

In die vorige manna het ons na Maria gekyk uit ‘n prototipiese perspektief, met ander woorde hoe sy ‘n voorbeeld in die fisiese is van ons wat in die gees dieselfde ervaring moet verkry. Paulus sê immers onteenseglik duidelik: “my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Gal 4:19). Miskien sal dit ons baat om dan net ‘n bietjie verder stil te staan by die voorhuid/maagdevlies-bedekking in die gees.

In 2 Cor 4:4 (GW) verduidelik Paulus die volgende: “The god of this world has blinded the minds of those who don’t believe. As a result, they don’t see the light of the Good News about Christ’s glory.” Vroeër in hoofstuk 3 verduidelik hy hierdie “bedekking” (:13) in terme van die bedekking wat Moses oor sy aangesig moes plaas nadat hy van die berg afgekom het. As gevolg van hulle “sinne” (:14a) wat verhard is (“minds” – KJV), bly die “bedekking” (“cover” in die oorspronklike Grieks), wat ook ‘n “bedekking oor hulle hart” (:15) is, daar. Dit kan net “in Christus vernietig word” (:14b); “wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem” (:16).

Hierdie geestelike oë wat oopgaan, is eintlik die verheldering van die verstand, en dit gebeur slegs deur wedergeboorte – daarsonder kan jy nie die Koninkryk van God sien nie (Joh 3:3), en derhalwe nie ingaan nie.

Die besnydenis as uiterlike teken van verbondsluiting in die Ou Testament (Hand 7:8) het as simboliese daad niks beteken sonder ‘n lewe van gehoorsaamheid (Rom 2:25) en geloof (Rom 3:30; 4:11; Gal 5:6) nie. Dit gaan geensins oor die fisiese daad van besnydenis nie, eerder oor die geestelike betekenis daaragter (Rom 2:28-29). Daarom word elkeen deurentyd gemaan om die “die voorhuid van julle hart” (Deut 10:16) te besny! In die Nuwe Verbond geskied dit nie meer deur die fisies-simboliese daad nie, maar deur wedergeboorte (Kol 2:11), where Christ becomes “a minister of the circumsision” (Rom 15:8)! Fil 3:3 stel dit só omvattend: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie …”

Maar dit gebeur nie net op ‘n persoonlik-individuele vlak nie – daar is ook ‘n kollektiewe sluier wat gelig moet word. Wanneer ons wedergebore word, stap ons (as individu) die voorhof binne. Maar later, wanneer ons na die derde dimensie, die Allerheiligste, deurgaan, met ander woorde deel van die (kollektiewe) Bruid van Christus op die berg Sion word, word Jes 25:6 waar: “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn. En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.” (Hieroor later meer.)

 

  • Sela: Bring die lering in verband met Jes 60:1-3.
  • Lees: 2 Kron 11;  Job 9; Open 13
  • Memoriseer: Open 13:8
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Julle het gekom by die berg Sion …”