“terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ‘n voortrefliker naam geërf het as hulle”
(Heb 1:4)
Om die argument in die vorige twee mannas net vas te maak, is dit belangrik om ‘n paar opmerkings te maak oor die Name van Jesus. Daar is baie geskryf oor die feit dat die Seun van God met die Naam Jesus benoem is, terwyl die Ou-Testamentiese verwagting was dat Hy die Naam Emmánuel moes hê. Ons weet dat die Engel eksplisiet in die droom aan Josef gesê het dat die Seun se Naam Jesus moet wees (Mat 1:21), maar ons lees mis dat die Engel ook die Ou-Testamentiese profesie uit Jesaja (7:14) aanhaal om die legality van die Seun te stel: “En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Mat 1:21-22).
Daar is dus ‘n oënskynlike diskrepansie: Hoekom word Emmánuel dan Jesus genoem?
Dis eintlik nog meer kompleks as dit. In Rigt 13:18 (LITV) gee die Engel van die Here (wat duidelik die pre-inkarnasiemanifestasie van Jesus is) sy Naam as Wonderbaar: “And the Angel of Jehovah said to him, Why do you ask this about My name? Yea, it is Wonderful.”
Hierdie Naam word bevestig in Jes 9:6, maar daarbenewens word eksplisiet genoem dat Hy ook baie ander Name sal dra: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— “
Dit is egter net enkele van die Name – daar is meer as 120 wat ‘n mens in die res van die Bybel kan versamel! (Sien onder Dieper delf hieronder.) ‘n Mens kan akademiese, filosofiese en teologiese hare kloof oor wat die “korrekte” Naam moet wees waarop die Messias aangespreek moet word, maar Heb 1:4 maak dit baie duidelik: Hy het ‘n voortrefliker naam geërf het as die engele en iedereen anders – en dié Naam is: die Seun van God! Al die ander name is slegs manifestasies van sy karakter, soos wat name oor die algemeen dui op karakteraard. Crim & Buttrick se The Interpreter’s Dictionary of the Bible sê tereg: “To know the name of God is to know God as He has revealed Himself … When used of God, ‘name’ … has a revelatory content.”
Die Seun van God – en niemand deel daardie Naam nie! – is dus Jesus: die verlossing van Jehova; Hy is Immanuel: God met ons; Hy is die Spruit, die Wortel van Dawid, die Blink Môrester, die Advokaat … Jy moet Salomo se vraag in Spr 30:4 kan antwoord: “Hoe is sy Naam? En hoe is die Naam van sy Seun—as jy dit weet?”
As daar in Hand 8:12 gesê word Filippus het die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig, en Paulus stel dit in Kol 3:17: “En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus …”, en Jesus verklaar in Joh 16:23 self dat “alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee”, dan moet ons besef dis nie die talige manifestasie van die Naam nie, maar die krag wat gesetel is in die posisie van die “Naam bo elke naam” (Fil 2:9), omdat Hy die superieure outoriteit is, en sy Naam, die kollektief van sy karakter, uitnemender en voortrefliker is as enigeen anders.
- Sela: Hoe leer ken jy Hom in die manifestasie van sy Name?
- Lees: 2 Kron 15; Job 13; Open 17
- Memoriseer: 2 Kron 15:2b
- Dieper delf: http://www.embassyofheaven.com/catalog/comeout/comeoutk3a.htm