“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word …”
(Mat 6:9)
In William P. Young se enigmatiese roman, The Shack, as die hoofkarakter, Mackenzie, aan Jesus voorgestel word, dan antwoord Hy: “Jesus? Yes. And you may call me that if you like. After all, it has become my common name. My mother called me Yeshua, but I have also been known to respond to Joshua or even Jesse.”
In die vorige mannas het ons duidelik gesien dat dit gaan nie oor die tegnies korrekte Naam van Jesus nie, maar oor ons hartsingesteldheid teenoor die Persoon wat die Naam beliggaam. Rom 10:12-13 plaas dit in duidelike konteks: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Let op: daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie, en by implikasie nie ten opsigte van die taal van elkeen van die prototipiese groepe EN hul tale nie. Hy is tog Here van almal, en elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word, al noem hulle Hom ook op watter Naam!
Die begrip ‘naam’ in Grieks is “onoma”, en sê Thayer, “the name is used for everything which the name covers, everything the thought or feeling of which is aroused in the mind by mentioning, hearing, remembering, the name, i.e. for one’s rank, authority, interests, pleasure, command, excellences, deeds etc.” Sela: everything the name covers. Wat dit verder omlyn, is dat die woordjie “onoma” ‘n afleiding is van die woordjie “ginosko”, om Hom intiem te kan ken! Ons gebruik dus sy Naam – met alles inbegrepe van wat Hy cover – omdat ons Hom in daardie manifestasievorme van sy Karakter leer ken het! Letterlik is dit soos Murdock se vertaling van 1 Kor 1:2 dit stel, “(that we) invoke the name of our Lord Jesus Messiah”. In die oorspronklike taal beteken hierdie “invocation” to “entitle”. Jy kry dus besit van Wie Hy is deurdat jy sy Naam (en Karakter) ken.
Ps 111:9 sê : “sy Naam is heilig en vreeslik”. As jy Hom ken, sal Hy sy Naam oor jou uitroep: “En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees.” (Deut 28:10). As dit so is, kan jy verstaan dat Jesus ons geleer het om in ons daaglikse gebed te bid: “Laat u Naam geheilig word …”, want deur die optrede van hulle oor wie sy Naam uitgeroep is, sal al die ander ongeredde mense leer om Hom te vrees (1 Kon 8:43). En almal wat teen ons optree, doen so, sê Jesus, “ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie” (Joh 15:21). Sela.
- Sela: Is sy Naam oor jou uitgeroep? Heilig jy sy Naam? Bid ook oor Eseg 43:8.
- Lees: 2 Kron 16; Job 14; Open 18
- Memoriseer: 2 Kron 16:9a
- Vir dieper delf: Lees Franklin Graham se boek: The Name.