Dag 258

“En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot

blydskap verheug.”  (Mat 2:10)

 

 

Daar is baie aspekte van die geboorte en vroeë jare van Jesus wat ons dikwels bloot as toevallige kontekstuele gegewens beskou, maar wat eintlik ‘n belangrike betekenis inhou. Een so aspek is die verskyning van die  Betlehemster. Net in die evangelie van Matteus (2:1-2) word die verhaal daarvan vertel: “En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.”

Die geboortedatum van Jesus dien as die wêreldwye merker van ons jaartelling. Byvoorbeeld: as ons nou in die jaar 2008 is, sou dit beteken Christus is 2008 jaar gelede gebore. Ons weet egter dat dit nie die geval is nie. Die monnik Dionysius Exiguus, wat deur die indertydse pous aangestel is om met ‘n kalender vorendag te kom wat rondom feesdae gesentreer is, het in 525 n.C. ‘n fout gemaak in sy berekeninge. Daar is allerwee konsensus dat Jesus eintlik streng gesproke gebore is rondom 4-7 voor Christus J. Daarbenewens is die kalender wat ons tans volg, gebaseer op die siklusse van die son, terwyl God se kalender gebaseer is op die siklusse van die maan (Eks 2:2; Jes 66:23). Hierdie diskrepans veroorsaak dat ons kalender heeltemal uit ritme is met God se kalender. Om hierdie rede kan ons geensins die datum wat ons as Jesus se geboortedag herdenk met sekerheid koppel aan óf die jaartal óf die maand- of dagdatum nie.

Om derhalwe die ster se historiese verskyning te gaan soek wat rondom 25 Desember van die jaar 1 (helaas ook dan nie die jaar nul nie, soos dit – streng matematies – behoort te gewees het) te gaan naspeur, gaan jou niks in die sak bring nie, want die tydskwadrante is heeltemal verkeerd en daar het te veel kumulatiewe tysberekeningfoute plaasgevind. Daar is dan ook binne daardie tydsraster nie enige noemenswaardig buitengewone sterverskynings nie. In die tydspan 7-2 v.C. is daar egter verskeie opgetekende voorbeelde van supernovae, maaneklipse, komete en vreemde planeetkonstellasies wat dalk as hierdie spesiale ster geëien kan word. Maar onthou: hierdie wyse manne agter die ster aan het nie direk ná die geboorte van Christus daar aangekom nie. Josef en sy gesin was nie meer in die stal nie, maar in ‘n huis  (Mat 2:11).

Met dit as agtergrond, ook met behulp van verskeie (ook teenstrydige) argumente, is daar drie verskillende datums wat tydkundiges voorstel as naastenby die geboortedag van Jesus: 1-7 Maart van die jaar 5 v.C.; 17 April 6 v.C;. en September 3 v.C. Albei hierdie datums het gedokumenteerde sterhelderte bo Betlehem gehad. Maar nou ja, dit bly hipoteses.

Die datum van 25 Desember is eers in die tweede eeu na Christus deur Hippolytus, in navolging van Sextus Julius Africanus (221 n.C.), voorgestel, maar toe in die vierde eeu na Christus is dit – op grond van die twyfelagtige aanvoorwerk van John Chrysostom – aanvaar. Die grondslag daarvoor was die kerstening van ‘n pagan-feesdag, die “geboorte” van Sol Invictus, die Onoorwinlike Songod. Later meer hieroor.

Maar ten opsigte van die ster wat die “wyse manne” gelei het na die Christuskind, lê daar ‘n ander geheimenis in opgesluit wat die “Betlehemster, o Wonderlig, o lieflike ster” helaas in ‘n totaal ander perspektief stel. Meer daaroor in die volgende manna.

 

  • Sela: Waarom is daar dan so ‘n (vals) tradisie rondom Kersfees geweef?
  • Lees: 2 Kron 17;  Job 15; Open 19
  • Memoriseer: Open 19:13
  • Vir dieper delf: Martin, Ernest L. The Star of Bethlehem that astonished the world.