“‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op”
(Num 24:17)
Daar is heelwat profesieë in die Ou Testament wat vooruitgewys het na die geboorte van die Messias, maar nét een het melding van ‘n ster gemaak – dié profesie hierbo uit die mond van Bíleam. Hierin is daar duidelik ‘n heenwysing na die verwagting wat in Israel bestaan het dat die komende Messias ook ‘n staatkundige heersersrol oor Israel sou vervul en hul van die Romeinse dwingelandy verlos. Dít was die grootste vrees vir die heerser van die tyd, Herodus. Die kwessie van die koningskap van die Jode was miskien een van die belangrikste beskuldiging wat teen Jesus ingebring is (Mat 27:11 & 29).
Die feit dat van al die evangelieskrywers net Matteus die ster noem, is werklik opvallend, veral omdat dit klaarblyklik so ‘n uitsonderlike teken was. Maar kom ons gaan kyk na die werklike konteks waarbinne die “wonderbare” ster funksioneer, los van ons gemitologiseerde Christelike betekenis.
Dat Bíleam die profeet was wat oor die ster geprofeteer het, moet ‘n mens tot bekommernis stem. Benewens die geskiedenis wat oor Bíleam in Num 22–24 opgeteken is, waar hy voortdurend in stryd is om te profeteer wat God wil hê en wat hy deur agente van die koninkryk van duisternis gedryf word om anders te profeteer, is daar verskeie verwysings in die Ou én Nuwe Testament oor Bíleam wat duidelik uitwys dat hy ‘n ander agenda aan beslag gegee het as die agenda van God. Num 31:16 verduidelik dat hy die oorsaak was van die troubreuk van die volk teenoor die Here, “sodat die plaag in die vergadering van die Here was”. Moses, Josua, Nehemia en Miga verwys telkens na hierdie “plagende” geskiedenis van Bíleam. Maar dan selfs in die Nuwe Testament verkry hy ‘n prototipiese betekenis: “Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het …” (2 Pet 2:15). In Jud 11 word gepraat van hulle wat “om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset … omgekom” het. En in Open 2:14 word die eindtydkerk só gewaarsku: “Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.”
Die “wyse” manne in ons Afrikaans-vertalings is eintlik magus genoem, afgelei van die woord magicians. Hulle was astroloë wat gekom het uit die okkultiese priesterskap van die Persiese orde van Zoroaster (wat rondom 1000 v.C. begin het) – hulle wysheid was bepaald demonies gewees (Jak 3:15), in diens van ‘n ander koninkryk. Dáárom word hulle deur ‘n ster “gelei” na Jerusalem, maar is vreemd genoeg onseker oor waar presies Hy hom bevind, wat hul “laat profeteer” – presies soos Bíleam – oor wat hulle kom doen het, en Herodus in sy paranoia wéét nou onteenseglik die Verlosser is gebore. Daarna, ewe skielik, verskyn die ster weer uit die niet en lei hul na die Kindjie, bly selfs teen alle astronomiebeginsels “staan” bokant die plek waar Jesus Hom bevind. Bes moontlik was hierdie “Ster” ‘n “dwaalster” (Jud 13), afskynsel van die oorspronklike “Môrester”, ja Lucifer (Jes 14:12), die een met die glans van ‘n ster (Eseg 28:17). Dit het ‘n dringende waarskuwing van God aan die magi gekos (soos met Abiméleg – Gen 20), om nie die agenda van die koninkryk van duisternis uit te voer en die Seun van God oor te lewer in die hande van Herodus nie.
Hoe maklik misgis ons ons nie en hoe dwaal ons nie as gevolg van die kwasiblinkheid van sterre nie.
- Sela: Vra God om jou te bevry van die gees van Bí
- Lees: 2 Kron 18; Job 16; Open 20
- Memoriseer: 2 Kron 18:13 (baie interessante parallelle geskiedenis vir hierdie lering!)
- Vir dieper delf: Lees die okkultiese Aquarius now deur Marilyn Ferguson om te sien hoe dieselfde
gees van Bíleam die Nuwe Era-beweging rig.