Dag 26

“Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart …” (Jer 4:4, OAV)

Die besnydenis was in die Ou-Testament die proses waarmee jy verseël is in die verbond met God. Gereformeerde teologie beredeneer dat hierdie proses van besnydenis in die Nuwe-Testament oorgegaan het in die doop (besprinkeling) van babatjies. Maar tog is daar nie ‘n enkele Skrifverwysing wat dit kan staaf nie. En Jesus is die beste getuienis van die hoe die twee testamente en bedelings in Hom kulmineer. 

Jesus word, volgens die vereiste voorskrif (Gen 17:10-14), op die agtste dag besny (Luk 2:21). Toe Hy by Johannes die Doper kom, vra Jesus hom om Hom te doop. Johannes is ongemaklik, maar Jesus sê vir Hom: “Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.” (Mat 3:15). Later spel Hy dit uit vir al sy volgelinge: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word.” (Mark 16:16).

Die geheimenis van wedergeboorte, vermoed ons al hoe meer, is ten nouste verweef met doop. In wese is wedergeboorte “‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus” (Kol 2:11). In Eseg 36:25 word hieroor geprofeteer: “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.” Met die wedergeboorte en doop word jy in Christus besny. Daarom sê Rom 2:29: “besnydenis is dié van die hart, in die gees”. Daarom: “Want in Christus Jesus het nòg die (fisiese) besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.” (Gal 6:15).

Reeds in die ou verbond was dít God se begeerte: besnydenis van hart, geestelik, en nie net die uiterlike, fisiese (godsdienstige) tekens nie. Daarom sê Hy: “Besny dan die voorhuid van julle hart.” (Deut 10:16)! Hierdie voorwaarde bring jou in in die nuwe verbond: “En die HERE jou God sal jou hart besny … om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” (Deut 30:6). Net hier kan jou nuwe lewe begin, want DIE LEWE het in jou opgestaan. 

  • Sela:  Wat beteken die uitspraak van Jesus: “om alle geregtigheid te vervul”. Lees hiermee saam: Heb 5:13, 11:7, Mat 6:33, Rom 1:7 en Efes 4:24.
  • Lees: Gen 26; Ps 26; 1 Joh 5
  • Memoriseer:  1 Joh 5:7-8.
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Die ou en nuwe verbond”.