“And she gave birth to her firstborn Son, and she wrapped Him in long strips of cloth …”
(Luk 2:7a, ALT)
Die pasgebore seuntjie Jesus is nie in doeke toegedraai soos baie vertalings dit het nie, maar in lang repe materiaal. Hierdie oënskynlike onbenullige gegewe is deel van baie verhulde profetiese tekens rondom die lewe van die Messias. Om hierdie rede word aan die herders wat na Jesus toe moet gaan, die volgende gesê in Luk 2:12: “En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.” Die King James stel dit meer korrek: “And this shall be a sign unto you; Ye shall find the babe wrapped in swaddling clothes, lying in a manger.”
Die eerste ding wat ons moet raaksien, is dat dit die repe wat Hom met sy geboorte toegemaak het, ook met sy sterfte Hom op soortgelyke wyse toegemaak het. Murdock verklaar dit in Luk 23:53 as “a winding-sheet of linen”, en Strongs lig dit toe as “strips of linen cloth for swathing the dead”.
Die worteloorsprong van die woord beteken “to strap or wrap with strips”, wat weer afgelei is van die woord “to gasp, to mangle, convulse”, en met die simboliese korrelate van “rend, tear”. En die wortelbetekenis daarvan is: “to draw out”! Kom ons probeer verduidelik: Jesus is gebore met net een doel voor oë: om te sterwe. Reeds met sy geboorte is hy al “verpak” vir die dood. Natuurlik: die blote feit dat God met (sterflike) vlees geklee is in die gestalte van Jesus, was ‘n heenwysing dat Hy seer sekerlik geweet het dat Hy met dié vleeskleding as ‘t ware met die dood geklee is. Heb 2:14-15 stel dit uitsonderlik raak: “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”
Jesus moes letterlik als wat skeiding maak tussen mens en God (Jes 59:2; Efes 2:14) kom stukkend skeur. Om hierdie rede het Hy nie omgegee dat sy vlees soos lap geskeur het nie (Jes 53:5), en dit het letterlik gebeur toe die voorhangsel (wat op skeiding dui – Eks 26:33) van bo tot onder geskeur het. Heb 10:20 sê die voorhangsel was Jesus se vlees!
Soos Moses die rots oopgeskeur het om die lewende water voort te bring (Num 20:11), moes die Rots, Christus, oopgeslaan word om “lewende water” vry te stel (1 Kor 10:4). Daardeur het God ook die hemele geskeur (Jes 64:1) sodat mens en God bymekaar kan uitkom.
Dis dan uitsonderlik interessant dat alhoewel Jesus se liggaam geskeur is, die onderkleed (wat sonder naat was) nie geskeur is nie, al wou die soldate elkeen ‘n deel daarvan hê. (Joh 19:23-24) – sy mantel (= outoriteit) kan nie geskeur word nie. Dit staan in skerp teenstelling met die kleed van die hoëpriester wat hy self geskeur het (Mark 14:63).
Ons het hierbo gesê dat die wortelbetekenis van die repe linne waarmee Jesus toegedraai is, beteken: “to draw out”. Soos Moses se biesiemandjie gevleg is, soos Noag se ark kundig gebou is, so is die vleesbekleding van Christus ‘n ‘toegedraaide’ vaartuig gewees waarmee Hy ons uitgetrek het uit die waters van humanity (Open 17:15), inderdaad: “Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek.” (Ps 18:16). Sela.
- Sela: Vind uit wat die naam Moses en Noag beteken en bring dit met die lering in verband.
- Lees: 2 Kron 19; Job 17; Open 21
- Memoriseer: Open 21:2-3
- Vir dieper delf: Lees hfst 14 in Colin Urquhart se In Christ Jesus.