“En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”
(Mat 2:6)
In Joh 7:42 vra die skare die vraag in hul angstigheid om die Messias te identifiseer: “Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie?” Vers 43 sê dan: “Daar het toe verdeeldheid onder die skare gekom oor Hom.” Duidelik is die amper onbenullige dorpie Betlehem ‘n belangrike profetiese merker gewees om die Messias aan te koppel. Die geskiedenis van Betlehem – die huis van brood – is ‘n wonderbaarlike geskiedenis wat vir ons wys hoe God ‘n histories-geografiese voorbereiding gemaak het om vir sy Brood van die Lewe (Joh 6:33, 35, 48 51 & 58), Jesus die Christus, ‘n plek in die volheid van die tyd (Gal 4:4) voor te berei. Inderdaad, soos Miga 5:2 profeteer, is hierdie dorpie se “uitgange … uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid”.
Die noordelike grens van Betlehem word gemarkeer as die plek waar Ragel, die moeder van Josef en Benjamin, gesterf het en begrawe is (Gen 35:16-20; 48:7) net na die geboorte van Israel se laaste seun: Benjamin. Sy moeder wou hom noem: Ben-oni, seun van my smarte”, maar sy vader het hom toe benoem: Ben-jamin, “seun van die regterhand”. Op hierdie plek, Betlehem, het die seun wat in doeke toegemaak is, Jesus, alreeds deel geword van die profetiese geskiedenis wat Hom nie net “man van smarte” (Jes 53:3) gemaak het nie, maar veral ook “seun van die regterhand” (Mark 16:19; Heb 10:12, Open 1:17; Ps 80:17; 89:21; Hand 5:31)!
Die oostelike grens van Betlehem word gemarkeer as die plek waar die verhaal van Rut beslag kry. Dáár is die velde waar sy haar gerwe opgetel het en dáár waar Boas, as ‘n prototipe van die Messias, sy (ver)lossersreg uitgeoefen het oor ‘n hawelose vrou (Rut 4:6) wat later deel sou word van die bloedlyn van die Messias (Mat 1:5). Soos Rut was Maria eweneens haweloos hier. En kyk hoe profeteer die mense in die poort van Betlehem: hulle maak onmiddellik ‘n vergelyking tussen Ragel en Rut, en profeteer oor Maria wat nog sou kom, hierdie vroue “wat saam die huis van Israel gebou het”: “Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak ‘n naam in Betlehem! En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het—uit die nageslag wat die HERE jou uit hierdie jong vrou sal gee!” (Rut 4:11-12). Inderdaad het Jesus, soos Peres, die gees van die deurbreker gedemonstreer (sien weer Manna 253).
Baie lank voor Herodus opdrag gegee het dat al die seuntjies van 2 jaar en jonger om die lewe gebring moes word (Mat 2:17-18), het die moeders al híér geween: “‘n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.” (Jer 31:15). Inderdaad: Jesus teruggekom en sy en al die geofferde seuns se grondgebied teruggeëis (:17).
- Sela: Lees en bedink Ps 132 in die lig van hierdie lering.
- Lees: 2 Kron 22; Job 20; Jes 2
- Memoriseer: Jes 2:2-4
- Vir dieper delf: Lees Robert Farrar Capon: The mystery of Christ.