Dag 264

“Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär. Laat ons na sy woning gaan … Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte!”

(Ps 132:6-8)

 

Die vorige manna wys vir ons uit dat geen detail ooit vir God te veel gevra is nie. En dat Hy altyd die fisiese die geestelike laat voorafgaan (1 Kor 15:46) as ‘n tipe profetiese voorspel. As Dawid in Ps 132 sy pleidooi voor God bring oor die “plek” wat Hy vir die Allerhoogste wil vind, ‘n “woning”, ‘n “rusplek”, sê hy hierdie profound woorde: “Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.” Die Gesalfde na wie hier verwys word, is niemand anders nie as “Mâshîyach”, die gesalfde Messias, nie! Daarom luister Dawid God as ‘t ware af in die natuur, hoor hy in pleine  van Éfrata, in die velde van Jaär wat God beplan om op hierdie grond te doen – en vind uit dis dáár waar die Messias daadwerklik in die verre toekoms gebore sou word!

Op hierdie velde rondom Betlehem [indertyd “Betlehem Éfrata” (Gen 35:16 &19; Miga 5:2) asook “Betlehem-Juda” (1 Sam 17:12) genoem], het Dawid sy skape opgepas. Dawid is hier gebore en hy is hier as koning deur Samuel gesalf (1 Sam 16:4-13).

Ten spyte daarvan dat dit die “stad van Dawid” (Luk 2:4) genoem word, sê die Skrif dat Hur en Salma (Hur se seun) bekend staan as die “vader van Betlehem” (1 Kron 2:51; 4:4). Hur is die vader van Uri, wat weer die vader is van Besáleël (1 Kron 2:20; Eks 31:2-11). Volgens oorlewering was Isai, Dawid se pa, ‘n wewer van die voorhangsel, en soos dit in die Bybelse tradisie was, het hy hierdie kunsvaardigheid bes moontlik van sy vaders geërf wat deur Moses aangesê is om die kunswerke van die tempel te doen en toe vervul is met die Gees van God, met wysheid, verstand en kennis, bekwaamheid vir allerhande werk en kunstige planne (Eks 35:31-35). Daarom is dit nie vreemd nie dat as Dawid se oorwinning oor Goliat gedokumenteer word, word daar nie minder nie as vier keer gesê Goliat se spies was “soos ‘n wewersbalk” (1 Sam 17:7, o.a.)! Dit was die terminologie wat hierdie familie geken het J Ons kan dus sien dat die area rondom Betlehem bewoon is deur ‘n voorgeslag van Godvresende manne, vaardig in kuns en oorlogvoering, twee van die uitstaande kenmerke van die Messias (Open 19:13-17; Ps 139:13 & 15) wat ook uit hul genealogiese lyn sou voortkom en op sy trotse verbintenisse met die grond en God sou aanspraak maak.

‘n Mens kan jou net indink hoe God met Isai en Besáleël gepraat het in profetiese vergesigte terwyl hul die weefwerk gedoen het, dat die Seun wat uit hulle saad verwek sou word, se Liggaam die voorhangsel sou word wat geskeur moes word (Heb 10:20), sodat mens met God kon versoen.

In die tyd van Jeremia was die karavanserai (karavaantrek) van Kimham die amptelike trek na Egipte toe (2 Sam 19:37-40; Jer 41:17). By die vertrekpunt in Betlehem was daar dikwels tydelike verblyfplekke, sommer so saam met die trekdiere. Dis bes moontlik hier wat die Jesuskind gebore is. Dis bes moontlik hier waar Josef en sy gesin gevlug het Egipte toe.

In hierdie ryk tappiserie van geskiedenis en grond en genade het God sy Seun, die Ark van sy Sterkte, toegedraai.

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees om vir jou ook deeltjies van jou Goddelike genealogie te wys.
  • Lees: 2 Kron 24;  Job 22; Jes 3
  • Memoriseer: Job 22:23-27
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Patologie van familieclans, volkere en verre voorgeslagte