Dag 265

“En hulle het … die Kindjie … gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring

vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.”     (Mat 2:11)

 

Die Magi, of wyse manne, wat gekom het om aan Christus hulde te bewys, was geskoold in die geheimenisse van hulle esoteriese godsdiens, wat sterrekunde, astrologie, filosofie, mitologie, numerologie, en so meer ingesluit het. Daniël en sy vriende was in hul tyd bes moontlik deel van hierdie gesofistikeerde opleidingstradisie, “vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap” (Dan 1:4). Van Daniël self het hul seer sekerlik ook veel geleer, veral rondom die profetiese beloftes wat God aan hom geopenbaar het rondom die lotgevalle van Israel as volk, die heropbou van die tempel en die stad Jerusalem en uiteraard die “opbou” tot op “’n Gesalfde” (Dan 9:24-25). Die koms van Jesus die Christus, die Seun van God, na die aarde as mens was miskien die grootste moontlike gebeurtenis in die geskiedenis van die wêreld, ‘n gebeurtenis wat die aardse en hemelse realms uiteraards in geweldige beroering gebring het, en hierdie geestelikes sou bepaald hiervan kennis geneem het, al was hulle van die ander koninkryk.

Dit sou uiteraard dus gepas gewees het vir die magi om geskenke vir Hom te bring, want hulle het onteenseglik geweet dat Hy van koninklike afkoms was. Soos met ‘n koning het hul voor Hom neergeval toe hulle Hom sien, en in die tradisie van koninklike besoeke (Gen 43:11; 1 Kon 10:10) het hul vir Hom geskenke gebring (sien ook bv Ps 72, veral vers 10).

Maar dis die aard van die geskenke wat veral betekenis dra: goud, wierook en mirre. Daarin lê ‘n boodskap van hoe die magi Jesus die Christus geag en beoordeel het. Goud as geskenk dui of Goddelike natuur (Ps 21:1 & 3; Eseg 16:12-13; 1 Kon 10:18; Dan 2: 31-32, 36-38). Deur goud te gee, het hul Jesus se Goddelike natuur erken.

Deur mirre te gee as geskenk, het die magi Christus se menslike natuur erken. Benewens die feit dat dit gebruik is om dooie vlees te balsem (Joh 19:39), is dit ook gebruik as ‘n parfuum (om liggamsreuke te weer) (Est 2:12) en as deel van die heilige salfolie (Eks 30:23)  Mirre is derhalwe ‘n (h)erkenning van die Messias in die vlees, en ‘n aanduiding van sy goeie Naam en karakter (Hoogl 1:2-3), die feit dat kennis van Hom ‘n aangename geur versprei (2 Kor 2:14).

Deur wierook as geskenk te bring, erken die magi dat Christus ‘n offer is. Dwarsdeur die Skrif is wierook ‘n primêre agens wanneer offers gebring word (Lev 2:1-2; Jer 17:26). Deur die geskenk van die wierook dui hul profeties aan dat Jesus die offer gaan wees om versoening tussen God en mens te bewerkstellig (Heb 10:14).

In die geskenke van die magi kry ons ‘n diepsinnige verstaan van wie Jesus Christus is.

 

  • Sela: Verstaan Fil 2:10 en 1 Sam 5:3 in die lig van die lering.
  • Lees: 2 Kron 25;  Job 23; Jes 4
  • Memoriseer: Jes 4:5
  • Vir dieper delf: Leer om die taal van die okkultiese aanslag in ons populêre denkwêreld en kultuur te verstaan. ‘n Boek soos Terry M. Crist: Learning the language of Babylon kan jou help onderskei.