Dag 266

“Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.”

(Jes 5:13)

 

In Dag 263 en Dag 264 het ons stilgestaan by die historiese Betlehem en hoe God die geskiedenis en die lotgevalle van mense profeties voorberei is om Jesus die Christus spesifiek dáár te ontvang. Soos wat ons die einde nader van hierdie onderafdeling oor Christus wat in die vlees gekom het, is dit belangrik om ook te let op die dieper geestelike betekenis van Betlehem.

Paulus verduidelik in 1 Kor 10: 6 & 11 dat al die Ou-Testamentiese gebeure simbolies of profeties dien as voorbeelde vir ons wat in die Nuwe Verbond geestelik moet verstaan. (Onthou: die  Nuwe Verbond neem eers streng gesproke ‘n aanvang met die opstanding van Jesus uit die dood – derhalwe strek die Ou Testament tot dan. Dis ook die rede hoekom Jesus gedurende sy aardse lewe so getrou die Ou-Testamentiese wette nagekom het – die nuwe genadeverbond was nog nie in Hom vervul nie.)

Ons weet nou reeds Betlehem beteken “huis van brood” en dat dit primêr dui op Christus wat die “Brood van die lewe” (Joh 6:48) is. Maar, interessant genoeg, is Hy ook die “Water van die lewe” (Joh 4:14; Open 21:6). Ons het nou al gesien hoe tuis Dawid in hierdie huis van brood was, maar dis eweneens interessant om raak te lees dat toe hy geveg het, sy beheerte spesifiek was na die water van Betlehem: “ En Dawid het ‘n begeerte voel opkom en gesê: Wie sal vir my water gee om te drink uit die put van Betlehem wat by die poort is?” (2 Sam 23:15). Dawid het daar in die huis van brood verlang na die water van die lewe – Jesus! Net so is die Israeliete in die woestyn gevoed met die hoop op Jesus: “En U het hulle brood gegee uit die hemel vir hulle honger en water vir hulle uit die rots laat uitkom vir hulle dors, en aan hulle gesê om die land in besit te gaan neem waaromtrent U u hand opgehef het om hulle dit te gee.” (Neh 9:15). Brood uit die hemel – Ps 105:40 maak dit duidelik dit is Jesus! En water uit die Rots – dit was Jesus: “en almal (het) dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots …, en die rots was Christus” (1 Kor 10:3-4).

Toe Isébel die profete van die HERE uitgeroei het (1 Kon 18:4), het Obádja 100 van hul in ‘n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou – ons kan vandag eers hul dieet verstaan (Mat 4:4)! Moses is daarmee 40 dae op die berg gevoed (Eks 34:28). Daar is ‘n honger en dors wat nie met brood en water gevul kan word nie (Amos 8:11).

Die uitdrukking “brood en water” kom nie minder nie as 39 keer in die Ou Testament voor nie, maar nie eens een keer in die Nuwe Testament nie – die Lewende Brood en die Lewende Water het dit volledig kom vervang!

 

  • Sela: Wat beteken Jes 5:13 in hierdie konteks vir jou?
  • Lees: 2 Kron 26;  Job 24; Jes 5
  • Memoriseer: Jes 5:13 (hoe getrou is die Here nie!)
  • Vir dieper delf: Lees van Lass, die skaaphond, “who refused to eat and drink” in Phillip Keller se Lessons from a sheepdog.