“Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak
het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit …”
(2 Pet 1:16 OAV)
Kom ons gaan kyk met ‘n Kaapse draai na die historiese oorsprong en ontwikkeling van die konsep van Kersfees.
Die oorsprong van Kersfees is Mitrihaans en so ongeveer 4000 jaar oud. Mithra was die god van lig in antieke Iran, en derhalwe was die son sy simbool (steeds te sien in die vlag van Iran) en sy fees rondom 21 Desember tydens die wintersonstilstand.
Die verskillende heidense koninkryke wat oor die aarde geheers het, het ‘n veelheid van gode gehad wat aanbid is. Met die verloop van eeue het daar ‘n intersubjektiewe sinergie tussen die primitiewe geloofsisteme van Egipte, Persië, Babilonië en later Rome tot stand gekom en het dit met die verloop van tyd toenemend hul panteon gode laat evolueer tot ‘n oorkoepelende heersende songod.
Mithraïsme is Europa toe gebring deur die Griekse soldate na die neerlaag van die Persiërs deur Alexander. Die aanbidding van Mithras het deur Asië en Europa versprei waar dit genoem is Deus Sol Invictus Mithras (die god van die onoorwinlike son). Die Romeine het die geleentheid gebruik om hul god Saturnus en die hergeboorte van die son gedurende die winterewening te vier.
Die Persiese filosoofpriester Zoroaster (of Zarathustra) het dekades voor die geboorte van Christus ‘n dualisme gepredik wat gebaseer was op die god van die hemel teenoor die god van boosheid. Deur goed en kwaad te doen, het hy geleer,is mense dan óf hemel toe óf hel toe gestuur. Die Persiese songod Mithra (later in die Romeinse mitologie Mithras) is geïdentifiseer as die verlosser wat sou verskyn. In ongeveer 5.v.C. – presies op dieselfde tyd as wat alle historiese duidings meen Jesus die Christus gebore is – is Mithras volgens oorlewering gebore van ‘n maagd op die wintersonstilstand op 25 Desember (volgens die Romeinse Juliaanse kalender). Sy geboorte sou waargeneem deur skaapwagters en erken word deur wyse manne. As volwassene sou Mithras die siekes genees, die lammes laat loop, die blindes laat sien en selfs mense uit die dood opgewek. Voordat hy op die lente-ewening opgevaar het na die hemel, sou hy ‘n laaste avondmaal hê met twaalf dissipels (wat elk ‘n sodiakteken voorgestel het). Die navolging van Mithras is gekenmerk aan ‘n streng wettiesheid (reg/verkeerd), ‘n wit/swart moraliteit en verskeie vorme van inisiasie, wat doop met water ingesluit het, asook ‘n rituele maaltyd met brood en wyn, simbolies van Mithras se vlees en bloed. In hierdie mitologie en fabels is die Christus dan ook voorgehou as die inkarnasie van Mithras.
Dis ongelooflik hoe hierdie “diaboliese parodie van pagan miteskeppers” (Lynn Picknett: The secret history of Lucifer) die koms van die ware Christus probeer kontamineer het.
- Sela: Watter implikasies het die laaste sin vir jou geloofsfunksionering vandag. Hoeveel Romeinse fabels volg jy nog onkrities na?
- Lees: 2 Kron 28; Job 27; Jes 8
- Memoriseer: Jes 8:18
- Vir dieper delf: Lees hfst 12 in Max L. Dimont se Jews, God and history.