Dag 272

“God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees”

(1 Tim 3:16, OAV)

 

Die koperaltaar, weet ons teen hierdie tyd deeglik, is die plek waar “the mystery of godliness” beslag moet kry. 1 Tim 3:16 (CEV) spel dit só uit:: “Here is the great mystery of our religion: Christ came as a human. The Spirit proved that he pleased God, and he was seen by angels. Christ was preached to the nations. People in this world put their faith in him, and he was taken up to glory.”

In wat duidelik “the doctrine which is according to godliness” (1 Tim 6:3) is, word hier stapsgewys verduidelik hoe dit moontlik is dat ons, gewone, alledaagse, gevalle mense, “deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Pet 1:4). Met hierdie kennis kan ons, sê Paulus in sy brief aan Titus (1:1, LITV), as die uitverkorenes van God “(the) full knowledge of the truth according to godliness” ontvang!

Ons het nou vanaf Manna 220 stilgestaan by die eerste van hierdie fasette: God wat as ‘n mens gekom het. Die lang ekskursie wat ons geloop het, was om alle aspekte rondom sy GEBOORTE te dek. Ons beweeg nou na die tweede aspek: “Christus is geregverdig in die gees”, wat hoofsaaklik sal fokus op sy STERFTE. Alle aspekte van sy lewe – sy kindertyd, sy adolessensie, sy vroeë volwassenheid (waaroor ons baie min weet uit die opgetekende geskiedenis) – asook sy bedieningstyd vanaf sy dertigste jaar (waaroor ons veel weet), is ALLES afgestem op sy dood. Hy kon waarlik sê: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” (Joh 17:4).

Alvorens ons dan by die kruisiging uitkom, is dit nodig om te wys hoe Jesus gedurende sy lewe as offer voorberei is (Sef 1:7). In Heb 10:5-7 word dit mooi uitgespel: “Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God.”

Die uitdrukking: ”Christus is geregverdig in die Gees” het verskillende aspekte wat ons sal moet uitpluis alvorens ons die link sal kan maak rondom hoekom dit spesifiek aan sy sterfte gekoppel kan word. Die Analytical-Literal Translation wys uit hoe kompleks daardie sinsnede is: “God was revealed in flesh, justified [or, shown to be righteous] in spirit [or, by [the] Spirit] …”

Justification, of dan in Afrikaans: regverdigmaking, is die eerste swaartepunt waarby ons moet stilstaan. Die ganse evangelie van Jesus Christus wieg grootliks op hierdie swaartillende konsep: regverdigmaking. Dit is essensieel dat ek en jy tot die diepste murg van hierdie gewigtige term indring en kan verstaan waarom dit noodsaaklike kennis is vir ons om deelgenote van die Goddelike natuur te kan word. Daarvoor het ons bogenoemde toeligting deur die Heilige Gees nodig, want NET die Gees van God kan geregtigheid, geregverdigheid en regverdigmaking enigsins verstaanbaar maak.

 

 

  • Sela: Probeer vir jouself ‘n definisie formuleer van die drie terme in die sin hierbo.
  • Lees: 2 Kron 31;  Job 30; Jes 11
  • Memoriseer: Jes 11:1-2
  • Vir dieper delf: Lees hfst 7 van Michael Cassidy se Getting to the heart of things: Reflections on Christian basics.