Dag 273

“Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.” (Rom 5:18, OAV)

 

As ‘n mens die durf het om die klassieke teks: Foxe’s Christian Matyrs deur te werk, sal jy skrik om te besef dat die meeste Christelike martelare hul lewe moes prysgee ter wille van ‘n teologiese begrip: regverdigmaking. Baie se hande is afgekap, baie is onthoof, vele is op brandstapels geplaas, klompie is gekruisig omdat hulle nie bereidheid was om hul verstaan en verkondiging van regverdigmaking te verloën nie.

As regverdigmaking dan die oorwegende rede was hoekom hierdie martelare gesterf het, vermoed ek sou dit absoluut voorop in hul gedagtes gewees het in daardie laaste verskriklike momente van hul dood. A.W Tozer het gesê: “What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.” Daar lê iets verborge opgesluit in die begrip regverdigmaking wat hierdie Godsmanne geken het, wat hulle met onverskrokkenheid hul dood laat omhels het.

Regverdigmaking, verduidelik Webster’s só: “remission of sin and absolution from guilt and punishment; or an act of free grace by which God pardons the sinner and accepts him as righteous, on account of the atonement of Christ”. Die mooi Afrikaanse woord daarvoor is vryspraak. Die Skrif uit Romeine hierbo spel dit raak uit: deur Christus Jesus se daad van geregtigheid – om onskuldig te sterf vir die mensdom – word ons geregverdig of vrygespreek. Thayer sê dit beteken: “the act of God declaring men free from guilt and acceptable to him”. Strong’s voeg toe: “acquittal (for Christ’s sake)”, en voer dit terug na die basiswoord wat beteken: “to render (that is, show or regard as) just or innocent”.

Regverdigmaking veronderstel skuld. Hieroor is ons deeglik ingelig. Ons wéét “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom 3:23); ons weet: “daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom3:10); ons weet “die loon van die sonde is die dood” (Rom 6:23); ons weet die hele wêreld is vooor God doemwaardig (Rom 3:19). Geen wonder Prediker was so swartgallig nie – hy veral het geweet: “daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie” (Pred 7:2).

En as dit nou die mens se gevalle staat is, redeneer ons dikwels, wat kan ons nou daaraan doen? Nie veel nie, behalwe dat verval, misdaad, moord, roof, siekte, dood – alles uitvloeisels van ons gevalle toestand as mense – só deel van ons alledaagse realiteit is, en ons daarmee moet cope en daarvan probeer sin maak. En saam met Paulus roep ons dikwels in die klein ongelowige ure van die nag uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom 7:24)

Ons kan niks van regverdigmaking verstaan as dít nie insink wat in 1 Pet 3:18 staan nie: “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige, vir die onregverdiges, om ons tot God te bring …”

 

  • Sela: Vra die Heilige Gees om jou te oortuig van sonde (Joh 16:8).
  • Lees: 2 Kron 32;  Job 31; Jes 12
  • Memoriseer: Jes 12:3
  • Vir dieper delf: Doen moeite om Foxe’s Christian  matyrs deur te lees.