
“Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige, vir die onregverdiges, om ons tot God te bring …” (1 Pet 3:18, OAV)
Die eietydse postmoderne kerk het ‘n groot klem op die mens as soeker. Alles word seeker sensitive ingerig om die moderne, ongodsdienstig mense weer nader te laat kom na die kerk sonder om hom/haar in die minste moontlike mate te bedreig: die gebou word gemaklik na aan die hoofweë gebou, sonder enige overt Christelike simbole, die aanslag is anoniem en gesellig, sonder rituele of enige vorm van konfrontasie. Slegs bemoedigende gedeeltes uit lesersvriendelike parafrases van die Bybel word gebruik (opsioneel), gebruikersensitiewe musiek, ligte meditasie, geen teologiese begrippe wat mense dalkies nie verstaan nie, geen klem op sonde of verlorenheid wat mense ongemaklik kan laat voel nie nie – weliswaar in alle opsigte ‘n drivethrough McChurch.
Ja, natúúrlik moet ons innoverend dink (wise as serpents, innocent as doves – Mat 10:16) oor hoe om die Christuslose generasie te bereik, maar ek vermoed met al die akkommoderende gimmicks van geestelike oorkompensasie bedien ons heel dikwels ‘n ander evangelie (2 Kor 11:4). Lees weer die Skrif hierbo: wat is dit wat ons na God toe bring? In die CEV-vertaling klink dié vers só: “Christ died once for our sins. An innocent person died for those who are guilty. Christ did this to bring you to God …” As jy nie ‘n bewusmaking het van jou guilty toestand as mens nie, van jou verval en jou gebrokenheid nie, as jy nie kom tot die besef van skuld: “ek het gesondig teen die hemel en voor U” (Luk 15:21) nie, kan jy nie tot Hom nader nie. Christianity is nié ‘n feelgood attraction nie – dit vra van jou om jou lewe neer te lê.
Geen mens kan Christus se regverdigmaking en vryspraak aangryp sonder ‘n diep oortuiging van sy verlorenheid nie. Daarsonder bly bekering bloot ‘n akademiese begrip. Eseg 16:63: “sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, (sodat) Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het”.
Daar is net een ding, sê die Skrif, wat verlore mense na Christus toe trek. Maar allereers: net die Heilige Gees kan oortuig van sonde, van geregtigheid en van oordeel (Joh 16:8). Geen gimmicks, geen sielsdimensieverlokking, geen inkleding wat die evangelie verkoop nie – net die Heilige Gees.
Dan, soos Jesus dit self in Joh 12 32 gesê het: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” En vers 33: “En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.” Dis net die kruisdood van Christus wat mense na Hom toe trek. Vergelyk dit met Joh 3:14-18, waarop die bekende “Want so lief het God die wêreld gehad …” volg: “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Maar sentraal tot hierdie herkenning van die Christus, is die besef dat sy sterwe AS GEVOLG VAN jóú sonde plaasgevind het. Sag 12:10 sê die Gees van genade en smekinge moet uitgegiet word sodat jy “sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en … oor Hom (sal) rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind”.
- Sela: Vra die Heilige Gees Joh 16:8 en Sag 10:12. Ontvang dit.
- Lees: 2 Kron 33; Job 32; Jes 13
- Memoriseer: Job 32:8
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die DNA van God: Nederigheid.