Dag 275

“Ek … kyk, maar daar is niemand wat my ken nie; die toevlug is vir my verlore; niemand vra na my nie.”

 (Ps 142:4, OAV)

 

Om hierdie manna te kon skryf, moes ek wyd gaan nalees, minstens 30 boeke raadpleeg – en eintlik het dit my weinig gehelp. Niemand kon naastenby dit wat in my gees roer oor die onderwerp waaroor ek moet skryf remotely onder woorde bring nie. Hierdie is nie ‘n tema wat ‘n mens teoreties kan probeer verwoord nie, met Skrif netjies aanbied en toestrik nie. Dit raak die wese van wie jy is.

In die tema waarmee ons besig is, is dit belangrik dat ons die omvang daarvan moet begryp – hoekom was dit enigsins nodig dat Christus hoegenaamd moes sterf? Om dit te kan verstaan, is dit nodig dat jy letterlik na Hom getrek moet word – en dít kan net gebeur as jy deur die Heilige Gees oortuig word van jou verlorenheid en sonde en jou diep, diep onderbewustelike behoefte aan verlossing. As jy nie sonde en gevallenheid verstaan en jou en die ganse wêreld se gebrokenheid as gevolg daarvan deurleef nie, kan jy nie die vryspraak van Christus enigsins aangryp nie. Dis net ‘n drenkeling wat ‘n reddingstou desperaat aangryp.

Toe ek as jong leser kennis gemaak het met Lord of the flies van William Golding, gekonfronteer was met ‘n klompie seuns wat so gewoon soos ek was, en beleef het hoe ongesiens hulle verword het en beslag gegee het aan iets wat ek nog net in myself vermoed het: onverdunde boosheid, het ek my uit my kinderbybel geskrik. Die duiwel was nie net meer die fabelagtige karikatuur wat jou hel toe kan sleep nie – hy het ‘n gesig gekry in groot ooms wat slegte goed met klein seuntjies doen. En hy was nie net meer dit wat in die donker gang geskuil het, waarvoor jy bang was nie, nee – hy was onteenseglik te siene in die honger gesigte van swart ondervoede kindertjies wat uitsigloos uit ‘n tydskrif na jou toe teruggestaar het. Hy was aanwesig op bykans elke berig op die oggendkoerant – hy was oral. Hy was legio (Mark 5:9). Duidelik: “all flesh had corrupted their way” (Gen 6:12).

Tot toe het ek die ou berymde Psalm 130 redelik sonder begrip gesing: “Uit dieptes gans verlore / van redding ver vandaan. / Waar hoop se laaste spore / in wanhoop my vergaan.” Maar met verloop van tyd het ek besef het dat daar, in Van Wyk Louw se woorde, “boosheid – gesprikkelde sampioene- gebreek het uit die teerstraat wat jy is”. Boosheid was nie net meer ‘n gepersonifieerde donker figuur wat in die gebroke aarde en sy onheilspellendhede geskuil het  nie -hy was oral om my. Hy het my sluimerende wêreld vol van ‘n diepe onrus gesaai,  én hy was duidelik in my.

En dié donker het ek algaande besef, is dik oor die ganse wêreld gesmeer – die eerste lees van die brute slagting van die Jode in Auswitch se konsentrasiekampe en gaskamers het my aan den lyve laat voel hoe dit is om “sonder hoop en sonder God in die wêreld” (Efes 2:12) te wees. Ek het die enorme emosionele despair begryp wat die klein woordjie nihilisme inhou, al kon ek eers later in die woordeboek leer dit beteken: “to embrace a state of nothingness”. Alles het in hierdie intense geïsoleerde alleenheid die reuk van dood gedra.

 

  • Sela: Probeer Ps 142:4 in jou geestelike onderbewuste verstaan.
  • Lees: 2 Kron 34;  Job 33; Jes 14 (sien God se eiehandige sinchronisasie met die leeswerk!)
  • Memoriseer: Jes 14:29b
  • Vir dieper delf: Lees Frank E. Peretti se Piercing the darkness.