Dag 276

 

“ek het na Hom gesoek, maar Hom nie gevind nie; ek het na Hom geroep, maar Hy het my nie geantwoord nie”

 (Hoogl 5:6b, OAV)

 

 

Jy ken seker die bekende uitspraak van Thomas van Aquina: “U het ‘n holte vir Uself in ons binneste gemaak, en ons hart sal nooit rus vind alvorens dit met U gevul is nie.”

As ons binneste dan hierdie hunkering na God het, waarom is dit so that we embrace a state of nothingness?

Rom 3:11-18 verduidelik dit: “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie.  Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” Soos in Job (21:16) redeneer die aardling: “Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?”

Derhalwe is Jes 59:2 die gevolg van ons eiesinnigheid en wetteloosheid: “maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie”. As ons Hom nie vind nie, vul ons daardie God cavity in ons binneste met enigiets wat nie-God (Deut 32:17 & 21) is, veral godsdiens. Religion is the sense-making fiction in which you embrace yourself masqueraded as God.

Die Christelike geloof is die enigste geloof in die wêreld waar die Godheid hom neerbuig om die verlore mens te soek. Jes 65:1 spel dit so uit: “Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ‘n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!” Die wonderbaarlikheid van die waarheid is nie dat ons Hom gaan soek het nie, maar dat Hy ons kom soek het. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (Luk 19:10). Dit wat in Jer 31:3 staan, onderskei die God wat ons dien van enige ander sogenaamde god: “Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” Hos 11:4: “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek …”

Maar voordat ons die ewige raadsplan of bloudruk van God se plan wat Hy in ons harte gelê het (Pred 3:11), kan aangryp, moet die “middelmuur van skeiding” (Efes 2:14) verwyder word. Dít kan slegs gebeur as jou oë “Jesus Christus afgeskilder (sien) … as onder julle gekruisig” (Gal 3:1b). Soos Johannes die Doper, moet jy in jou hart gegrepe Hom kan sien, en herken, en sê: “Behold the Lamb of God, which taketh away the sin of the world.” (Joh 1:29); as jy kan bely: “Jesus-lam vir my geslaan, laat my nie verlore gaan.”

 

 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die belangrikheid van sondebesef.
  • Lees: 2 Kron 35;  Job 34; Jes 15
  • Memoriseer: Job 34:6 (hoe spot-on skakel dié Skrif nie met die lering nie!)
  • Vir dieper delf: Lees hfst 9 van Michael Cassidy se Getting to the heart of things.