“Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos …”
(Rom 7:24a, OAV)
Die bekende sielkundige, Dr M. Scott Peck, skrywer van onder andere The road less travelled, was as professionele persoon gekonfronteer met ‘n akademies en wetenskaplik onverklaarbare mag wat ‘n groter rol in die lewens van sy pasiënte gespeel het as enigiets anders. Die teenwoordigheid van hierdie onbekende, maar duidelik-onderskeibare invloed in sy pasiënte se lewens kon nie bloot toegeskryf word aan oorerwings-, psigologiese of sosiale faktore nie. Hierdie mag het na trauma, blootstelling aan sekere dinge, sekere verhoudings, en verskillende ander dinamikas, meer opvallend deel van die persoonlikheid geword en dit in ‘n groter mate begin dikteer. Dit het veral gemanifesteer in verwarring, ‘n verbeelde konsep van realiteit, ‘n durende onderliggende angs, en ‘n toeverlaat op leuenagtigheid. Dit het hom gelei om die boek te skryf met die titel: People of the lie, waar hy tot klaarheid probeer kom oor wat hy noem: “the psychology of evil”.
Sy slotsom na sy ekstensiewe navorsing het niks nuut opgelewer wat gewone beraders en bevryders nie al lankal mee gekonfronteer word nie, maar dit het akademiese beslag gegee aan die problematiek en realiteit van boosheid in mense se lewens. Maar niemand sê dit vir my raker nie as Van Wyk Louw in sy gedig ‘Ballade van die Bose’, waar Satan aan die woord is: “Die veles meen / hulle ken my gesig, / maar ek skuil te glansryk, / te na aan die lig, / en as hul wil waarsku en / en wysheid gee, / dan praat ek reeds / in die woordklank mee; / … en waar hulle vlug, / daar dra hul my mee / in die grys-wit groewe / van die senuwee. / Ek is ín jou / gevleg, gerank / soos ‘n wortel in / in die donker bank … / Ek is jou wese / se ondergrond / en ek trap in jou spoor / soos ‘n getroue hond. / … O waar sal jy gaan / en met watter skip? / die aarde is branding / en oral is klip, / of as jy wil vlug / uit die stad wat brand / dan vlug ek saam / soos ‘n vrou aan jou hand. / Ken jy my nou? / Het jy die spieël gesien, / en ken jy jou?”
Scott-Peck maak hierdie ongelooflik belangrike waarneming: “We become evil by attempting to hide from ourselves. The wickedness of the evil is not committed directly, but indirectly as part of this cover-up process. Evil originates not in the absence of guilt but in the efforts to escape it.” Dit lei Martin Buber, in sy boek Good and evil, daartoe om te sê: “Since the primary motive of the evil is to disguise, one of the places evil people are most likely to be found is within the church.”
Hierdie verbeelde realiteit en gepaardgaande leuen wat (ook in die geloof) gelewe word, maak ons “people of the lie”. Jesus het in Joh 8:44 dit só uitgespel: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.” Almal wat gebore word, elkeen wat ‘n naeltjie het, val in hierdie kategorie: People of the lie.
As hierdie selfherkenning van jou terminale toestand nie jou hart aangryp met ontsetting en diep droefheid nie, het jy nog nooit verlossing begeer nie. Dan het jy waarskynlik nog nooit waarlik uitgekom by die koperaltaar van die kruis nie. Het jy die spieël gesien, / en ken jy jou?
- Sela: Vra die Heilige Gees om 2 Kor 7:10 vir jou ‘n realiteit te maak.
- Lees: 2 Kron 36; Job 35; Jes 16
- Memoriseer: Jes 16:5
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vals konstrukte.